Nuus 15:00
BULLETIN 8 September 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie-kommissaris prys die taakspan oor politieke moorde vir sy deurbraak
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê die werkloosheidskrisis vererger namate die arbeidsmag minder bydra
# En kanovaart: Suid-Afrika wen vier medaljes op die marathon-wêreldkampioenskap in Hongarye
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het die polisie se taakspan vir politieke moorde geprys vir die vinnige inhegtenisneming van verdagtes wat gesoek word vir die moord op ‘n verklikker, Xolani Ntombela. Ntombela se moorddossier was een van die 121 wat teruggestuur is na die taakspan om te ondersoek. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê ‘n plaaslike hoofman van KwaZulu-Natal en ‘n vermeende huurmoordenaar is in hegtenis geneem vir die moord in November 2022:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, se goedkeuring van ‘n geregtelike doodsondersoek na die moord op vyf kinders in Mthatha in die Oos-Kaap in 1993. Die slagoffers, tussen 12- en 17-jaar-oud, is deur lede van die apartheidstydse Suid-Afrikaanse Weermag doodgeskiet by die huis van die PAC-aktivis Sigqibo Mpendulo. Die NVG se se woordvoerder, Luxolo Tyali, sê die Weermag het aanspreeklikheid aanvaar en beweer die slagoffers het bande gehad met die Azanian People’s Liberation Army:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê Suid-Afrika se ekonomie het ‘n skerp afname getoon, met groei wat van meer as vier-persent twee dekades gelede tot byna nul gedaal het. Die nuwe verslag gee staatskaping, beurtkrag, swak logistiek en verkwistende staatsbesteding die skuld. Die buro waarsku werkloosheid bly hoog namate die arbeidsmag minder bydra tot groei. Hy sê dringende hervormings soos die ontbondeling van Eskom, om Transnet reg te ruk, rompslomp te verminder en beleggersvertroue te herstel, kan die groeikoers binne vyf jaar herstel tot bo twee-persent.
Nuus uit die buiteland:
# Minstens vyf mense is vanoggend dood in ‘n skietaanval in Jerusalem. Die Israelse polisie sê twee terroriste het losgebrand op ‘n bushalte by Ramot Junction aan die noordelike buitewyke van die stad. Die plaaslike ambulansdiens Magen David Adom het die slagoffers identifiseer as drie mans in hul dertigs, ‘n man in sy vyftigs en ‘n vrou in haar vyftigs. Nege mense is met skietwonde na plaaslike hospitale geneem, sowel as drie wat beseer is deur gebreekte glas. Geen gewapende groep het tot dusver aanspreeklikheid aanvaar nie.
# Kanovaart: Span Suid-Afrika het twee brons- en twee silwermedaljes gewen op die marathon-wêreldkampioenskap in Hongarye. Keegan Vogt van Maritzburg College het silwer gewen in die K1-wedvaart en daarna met Ryley Smith saamgespan om die bronsmedalje in die K2-item op te raap. Andy Birkett het sy vierde silwermedalje in die mans se K1-wedvaart en negende algehele kampioenskapsmedalje gebuit. Jade Wilson het Suid-Afrika se medalje-oes voltooi met brons in die vroue se Onder 23-K1-item. Die land was elfde op die medaljeleer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-826-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-615-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….