Goeie Nuus
BULLETIN 8 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Sterrekykers in talle wêrelddele, ook Suid-Afrika, het gisteraand ‘n seldsame algehele maansverduistering waargeneem, bekend as ‘n “bloedmaan”. Die skouspel van 82-minute – een van die langste in ‘n dekade – het afgespeel toe die aarde tussen die maan en die son ingeskuif en sy skaduwee op die maan se oppervlak geval het. NASA sê die maansverduistering was sigbaar in Afrika, Europa, Asië en Australië. Baie mense het foto’s op sosiale mediaplatforms geplaas van die maan wat oranje of rooierig voorkom.
# Die Suid-Afrikaanse popster Tyla het nog ‘n MTV Video-musiektoekenning ontvang op ʼn seremonie in New York. Sy het die Afrobeats-kategorie gewen vir haar treffer-enkelsnit, PUSH 2 START. Die 23-jarige sangeres het dieselfde toekenning verlede jaar vir haar treffer, Water, gewen. Lady Gaga het met vier toekennings weggestap, insluitend kunstenaar van die jaar en beste samewerking met Bruno Mars vir Die With a Smile. Ariana Grande en Sabrina Carpenter spog elkeen met drie toekennings. Mariah Carey het met die Video Vanguard-toekenning weggestap.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling, Jaco Londt, sê die Fountain of Hope-intermediêre kinder- en jeugsentrum in Philippi, Kaapstad, is ʼn belangrike antwoord op ʼn voortslepende gaping in die land se kinderbeskermingstelsel. Die sentrum is die eerste van sy soort in Suid-Afrika en bied verblyf en ondersteuning aan jongmense wat oorgaan van veilige sorg na gemeenskapsgebaseerde sorgsentrums. Londt sê die departement het 1,5-miljoen-rand toegeken aan die sentrum, wat 25 kinders kan huisves:
# Kaapstad se grootste 24-uur-gemeenskaps-fietsry-uitdaging het meer as 930-duisend-rand vir die Vusa Rugby- en Leerakademie in Langa ingesamel. Die akademie verskaf akademiese ondersteuning, vroeë leerontwikkeling, rugby-afrigting en broodnodige psigo-maatskaplike sorg aan kinders van vier tot 13 jaar oud. Nicky Matthews van die instelling sê meer as drie-miljoen-rand is reeds in vyf jaar ingesamel met die geleentheid:
# En ten slotte: Die Universiteit van Johannesburg, in samewerking met Absa Business Banking en Qhubeka Charity, het fietse geskenk aan 129 graad 11-leerders van Hanyani Secondary School buite Thohoyandou in Limpopo. Die fietsprojek spruit voort uit die universiteit se maatskaplike projek om in infrastruktuur-behoeftes van inwoners in gebiede met min hulpbronne te voorsien. Die instelling se visekanselier en hoof, Letlhokwa Mpedi, sê die fietse sal leerders in afgeleë gebiede help om makliker by die skool te kom:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….