Nuus 14:00
BULLETIN 8 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG open ‘n geregtelike doodsondersoek na die moord op kinders in Mthatha in 1993
# ‘n Reusesoektog is aan die gang na ‘n vlieërplankryer wat aan die Weskus vermis word
# En tennis: Alcaraz is terug boaan die wêreldranglys na sy oorwinning op Flushing Meadows
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, se goedkeuring van ‘n geregtelike doodsondersoek na die moord op vyf kinders in Mthatha in die Oos-Kaap in 1993. Die slagoffers, tussen 12- en 17-jaar-oud, is deur lede van die apartheidstydse Suid-Afrikaanse Weermag doodgeskiet by die huis van die PAC-aktivis Sigqibo Mpendulo. Die NVG se se woordvoerder, Luxolo Tyali, sê die Weermag het aanspreeklikheid aanvaar, maar beweer die slagoffers het bande gehad met die Azanian People’s Liberation Army:
# Business Leadership South Africa sê die regering moet dringend ingryp volgens Business 20 se aanbevelings om werksgeleenthede te beskerm en groei te bevorder. Uitvoerende hoof Busi Mavuso waarsku 250-duisend werksgeleenthede in voorsieningskettings kan verlore gaan, vererger deur Amerikaanse handelsdruk. Mavuso sê Suid-Afrika moet spesiale ekonomiese sones gebruik, digitale infrastruktuur verbeter, regulasies stroomlyn en bedryfsgeleide vaardigheidsprogramme skep. Sy beklemtoon ook om die status quo te handhaaf sal die werksgeleenthede-krisis vererger, en bepleit vinnige hervormings om die ekonomie te laat herleef.
# ‘n Groot see-, lug- en kuslynsoektog gaan vandag voort na die 38-jarige vlieërplankryer Graham Howes van Bloubergstrand in Kaapstad. Die Nasionale Seereddingsinstituut sê Howes is gistermiddag laas buite Eden-on-the-Bay gesien, geklee in ‘n swart duikpak en met ‘n wit vlieërseil met rooi letters. Ondanks ‘n uitgebreide soektog is geen teken nog van hom gevind nie. Die soekgebied strek tot by Dassen-eiland. Die owerhede vra die publiek om enige waarnemings onmiddellik aan te meld.
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir hewige donderstorms met swaar reën in groot dele van Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal wat tot oorstromings van paaie en nedersettings kan lei. Inwoners in laagliggende gebiede word aangeraai om bykomende voorsorgmaatreëls te tref. Die Weerdiens sê die donderstorms kan lewensgevaarlik wees omdat die oorstromings infrastruktuur kan beskadig of vernietig en ontwrigting op paaie kan veroorsaak.
# Tennis: Carlos Alcaraz is die eerste keer sedert 2023 weer nommer een in die wêreld ná sy sege in die Amerikaanse Ope. Die 22-jarige Spanjaard het sy Italiaanse teenstander, Jannik Sinner, in vier stelle verslaan om sy tweede titel op Flushing Meadows en sy sesde Grand Slam-titel te buit. Sinner was 65 agtereenvolgende weke bo-aan die wêreldranglys. Alcaraz sê dis wonderlik om een van die grootste teikens te bereik wat hy begin vanjaar vir homself gestel het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-en-72-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-616-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….