Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS X (Maand) 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus het groot veranderings aan die span aangebring wat Saterdag in hul tweede Rugbykampioenskaps-wedstryd in Wellington teen Nieu-Seeland speel ná die nederlaag in Auckland. Dit sluit in ‘n nuwe skakelpaar – Cobus Reinach en Sacha Feinberg-Mngomezulu – ‘n nuwe senterpaar – Damian Willemse en Canan Moodie – ‘n nuwe vleuel, Ethan Hooker, en ‘n nuwe heelagter, Aphelele Fassi. Siya Kolisi is weer kaptein en terug op flank. Eben Etzebeth, Handré Pollard, Damian de Allende, Willie le Roux, Jesse Kriel en Marco van Staden is uitgelaat.
Die Springbok-vroue se afrigter, Swys de Bruin, sê intussen daar is baie positiewe dinge om te neem uit hul laaste groep D-Wêreldbekerwedstryd teen Frankryk in Northampton. Suid-Afrika het ‘n teleurstellende nederlaag van 57-10 teen Les Bleues gely en kom Saterdag teen die verdedigende kampioen, Nieu-Seeland, te staan in die kwarteindronde. De Bruin sê Frankryk is vierde op die wêreldranglys en dit was duidelik omdat hulle baie klinies was en elke geleentheid in punte omskep het:
# Krieket: Engeland het Suid-Afrika met ‘n rekord-342 lopies verslaan in die derde en laaste eendagwedstryd in Southampton. Jacob Bethell en Joe Root se honderdtalle het die gashere 414 vir vyf laat aanteken, Engeland se hoogste totaal in eendagwedstryde in drie jaar. Jofra Archer het daarna deur die Proteas se kolflys baljaar en vier paaltjies geneem, terwyl die besoekers vir 72 uitgeboul is. Suid-Afrika het die reeks 2-1 gewen. Die twee lande sal mekaar nou in ‘n T20-reeks van drie wedstryde pak wat Woensdag in Cardiff begin.
# Kanovaart: Span Suid-Afrika het twee brons- en twee silwermedaljes gewen op die marathon-wêreldkampioenskap in Hongarye. Keegan Vogt van Maritzburg College het silwer gewen in die K1-wedvaart en daarna met Ryley Smith saamgespan om die bronsmedalje in die K2-item op te raap. Andy Birkett het sy vierde silwermedalje in die mans se K1-wedvaart en negende algehele kampioenskapsmedalje gebuit. Jade Wilson het Suid-Afrika se medalje-oes voltooi met brons in die vroue se Onder 23-K1-item. Die land was elfde op die medaljeleer.
# En tennis: Carlos Alcaraz is die eerste keer sedert 2023 weer nommer een in die wêreld ná sy sege in die Amerikaanse Ope. Die 22-jarige Spanjaard het sy Italiaanse teenstander, Jannik Sinner, in vier stelle verslaan om sy tweede titel op Flushing Meadows en sy sesde Grand Slam-titel te buit. Sinner was 65 agtereenvolgende weke bo-aan die wêreldranglys. Alcaraz sê dis wonderlik om een van die grootste teikens te bereik wat hy begin vanjaar vir homself gestel het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….