Nuus 09:00
BULLETIN 9 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement is bekommerd oor die bestuurskrisis by die Kernenergiekorporasie
# DA sê ‘n Kuberkommissaris is nodig om Suid-Afrikaners teen KI-bankslenters te beskerm
# En, sterrekykers in Afrika, Europa, Asië and Australië ervaar ‘n seldsame algehele maansverduistering
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Elektrisiteit en Energie het kommer uitgespreek oor bewerings van ‘n bestuurskrisis by die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika. Die maatskappy is sonder ʼn funksionerende raad nadat vyf raadslede verlede week bedank het. Dit het plaasgevind nadat die raad nie ministeriële ondersteuning kon kry om die korporasie se uitvoerende hoof, Loyiso Tyabashe, te skors ná bewerings van wanbestuur van staatsfondse nie. Die komitee sê die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramakgopa, sal voor hulle moet verskyn en verslag doen oor die krisis.
# Die DA doen ʼn beroep op die regering om ʼn Kuber-kommissaris aan te stel terwyl kunsmatige-intelligensie-gedrewe slenters en digitale bankbedrog toeneem. Volgens die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum het die aantal digitale bankbedrogsake tussen 2023 en 2024 verdubbel, met finansiële verliese wat van een-miljard- tot 1,4-miljard-rand toegeneem het. Glynnis Breytenbach van die DA sê Suid-Afrikaners verdien veiliger digitale ruimtes en beter beskerming teen kubermisdaad:
# Die Campaign to Scrap the Labour Law Amendment Bills sê hulle verwerp die promulgering van die nuwe Kode van Goeie Praktyk oor Ontslag deur die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth. Die woordvoerder van die Veldtog, Patrick Mlaba, sê die nuwe kode verskuif die magsbalans as grondslag ten gunste van werkgewers. Hy sê die mag en beheer van werkgewers oor arbeid word versterk. Hy voeg by dat die aanstelling en ontslag van werkers baie makliker vir werkgewers sal word:
# Motorsport: Max Verstappen van Red Bull het sy voorste wegspringposisie in die Italiaanse Grand Prix benut en daarmee vir die eerste keer sedert Mei eerste geëindig. Die McLaren-jaers, Lando Norris en Oscar Piastri, was onderskeidelik tweede en derde, met Charles Leclerc in die vierde plek vir Ferrari. George Russell van Mercedes het vyfde geëindig. Norris het Piastri se voorsprong op die jaerskampioenskap tot 31 punte laat krimp, met nog agt wedrenne oor. Verstappen sê sy motor het baie beter gery as in vorige wedrenne:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60 sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-75 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-53 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-582-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-14-sent per vat.
# En ter afsluiting: Sterrekykers in talle wêrelddele, ook Suid-Afrika, het Sondagaand ‘n seldsame algehele maanverduistering, bekend as ‘n “bloedmaan”, waargeneem. Die skouspel van 82-minute – een van die langste in ‘n dekade – het afgespeel toe die Aarde tussen die maan en die son ingeskuif het en sy skaduwee op die maan se oppervlak geval het. NASA sê die maanverduistering was sigbaar in Europa, Afrika, Asië en Australië. Baie mense het foto’s op sosialemediaplatforms geplaas van die maan wat oranje of rooierig voorkom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….