Nuus 07:00
BULLETIN 8 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cachalia sê vermoorde polisiebeamptes is simbole van opoffering en toewyding aan plig
# Agt Gautengse departemente en 14 entiteite ontvang skoon oudits vir die 2024/2025-boekjaar
# En Zelensky veroordeel ’n Russiese aanval op ‘n regeringsgebou in Kiev
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê die verlies van ‘n polisiebeampte moet as ʼn misdaad teen die staat beskou word. In die 2024/2025-boekjaar het 27 polisiebeamptes hul lewens in die uitvoering van hul pligte verloor. Hy het Sondag by die jaarlikse Suid-Afrikaanse Polisiediens se Herdenkingsdag by die Uniegebou in Pretoria gepraat. Cachalia sê die beamptes wat tydens die uitvoering van hul pligte sterf, is ʼn voorbeeld van dapperheid, opoffering en diens aan die nasie:
Die Polisie- en Gevangenissevakbond, POPCRU eis intussen dat die regering met dringende praktiese stappe moet kom om polisie-moorde en -beserings te verminder, hetsy aan of van diens. POPCRU-woordvoerder Richard Mamabolo sê die vakbond eis ‘n dringende praktiese transformasie van polisiëringsomstandighede in Suid-Afrika:
# Gauteng se LUR vir Finansies en Ekonomiese Ontwikkeling, Lebogang Maile, sê agt departemente in die provinsie het in die 2024/2025-boekjaar skoon oudits ontvang. Dit sluit in die premier se kantoor, Tesourie, Samewerkende Regering en Tradisionele Sake. Veertien van die 19 provinsiale entiteite, onder meer die Gautrein, Gauteng Filmkommissie en die Drankraad het ook skoon oudits ontvang. Maile sê voortgesette mislukking van gevolgebestuur en nakoming ondermyn steeds die proses:
# Oekraïne se president, Volodymyr Zelensky, het Rusland se lugaanval die naweek op ʼn regeringsgebou in Kiev veroordeel. In sy grootste lugaanval tydens die oorlog het Moskou 800 hommeltuie ontplooi en die eerste keer die regering se hoofgebou getref. Minstens vier mense is in aanvalle reg oor Oekraïne dood, insluitend ʼn baba en ʼn jong vrou. Zelensky sê die aanval, terwyl ware diplomasie reeds lankal kon begin het, is ʼn doelbewuste misdaad en ʼn poging om die oorlog uit te rek.
# Rugby: Frankryk het nege drieë ingeryg vir ‘n bonuspuntoorwinning van 57-10 teen Suid-Afrika in Northampton om eerste in Groep D van die Vroue Wêreldbeker te eindig. Emilie Boulard en Joanna Grisez het vir Le Bleues beïndruk en elk twee drieë gedruk. Die skrumskakel Nadine Roos het die enigste drie vir die Springbok Vroue in die laaste minute van die wedstryd aangeteken. Die uitslag beteken Frankryk gaan sake teen Ierland in die kwarteindstryd uitspook terwyl Suid-Afrika teen die heersende kampioene, Nieu-Seeland, te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-889-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-588-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-12-sent per vat.
# En ten slotte: Fine Wine Fellow het die verkryging van Norman Goodfellows aangekondig. Dit is een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde voedsel- en drankverspreiders en kleinhandelaars van goeie wyne en spiritualieë. Goodfellows-woordvoerder, Jeanri-Tine van Zyl, sê verspreider se oorsprong dateer terug na 1976, toe Norman Kramer een van Suid-Afrika se eerste spesialis-drankwinkels geopen het. Sy sê hul kliënte en vennote sal grootliks baat vind by hierdie nuwe hoofstuk:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….