Nuus 06:00
BULLETIN 8 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul Mashatile waarsku diegene wat polisiebeamptes doodmaak
# Israel bombardeer ‘n tweede wolkekrabber terwyl hy sy aanval op Gazastad verskerp
# En krieket: Engeland behaal ’n rekord-oorwinning in die laaste eendagwedstryd teen Suid-Afrika
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê ‘n aanval op ‘n polisiebeampte is ‘n aanval op die Staat self, en dit sal met die volle mag van die wet hanteer word. Hy het gister die jaarlikse Suid-Afrikaanse Polisiediens-herdenkingsdag in Pretoria toegespreek. Sewe-en-twintig polisiebeamptes het gedurende die 2024/2025-boekjaar hul lewens in die uitvoering van hul pligte verloor. ‘n Totaal van 66 polisiebeamptes is in net twee jaar dood. Mashatile sê die regering verskerp pogings om die veiligheid van beamptes te verseker:
# Die ANC het die verduideliking van die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, verwelkom oor die nasionale konsep-kredietregulasies. Die party-woordvoerder Mahlengi Bhengu sê die ANC het kennis geneem van die minister se versekering dat die voorgestelde regulasies nie bedoel is om studente wat by instellings van hoër onderwys skuld het, te benadeel nie. Dit sal eerder toegang tot finansiering verleen vir mikro-, klein en mediumgrootte ondernemings, die township-ekonomie, vroue en om geskiedkundige gemarginaliseerde gemeenskappe te versterk:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, het die sluipmoord op die Johannesburgse insolvensieprokureur, Bouwer van Niekerk, veroordeel. Van Niekerk is Vrydag by sy regsfirma se kantore in Avonwold doodgeskiet. Die woordvoerder van die ministerie, Terrence Manase, sê die nuus van sy moord het gekom kort nadat die departement berig ontvang het van die noodlottige skietery van ‘n manlike beskuldigde buite die Athlone-landdroshof in Kaapstad op dieselfde dag:
# Die DA in die Wes-Kaap het die aankondiging deur die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, verwelkom dat die provinsiale regering, Wesgro en sy bedryfsvennote stappe doen om boere onder druk te ondersteun en werksgeleenthede te beskerm. Die DA se Noko Masipa sê dit volg die 30-persent-tarief op Suid-Afrikaanse landbou-uitvoere na die Verenigde State. Hy sê duisende se lewensbestaan in die Wes-Kaap is afhanklik van bestendige en groeiende uitvoermarkte:
# Die Israelse weermag het nog ‘n wolkekrabber in Gazastad vernietig, die tweede groot gebou die afgelope twee dae. Die minister van Verdediging, Israel Katz, het ‘n video op X geplaas van die gebou wat ineenstort, met die opskrif: “Ons gaan voort.” Die weermag, wat sy operasies in Gaza uitgebrei het, sê die Sussi-toring word deur Hamas gebruik – ‘n bewering wat deur die militante groep ontken word. In ‘n plasing op sosiale media het ‘n woordvoerder inwoners aangespoor om die stad te verlaat en by die duisende aan te sluit wat reeds by al-Mawasi, tussen Khan Younis en die kuslyn gevestig is.
# Krieket: Engeland het Suid-Afrika met ‘n rekord van 342 lopies in die derde en laaste eendagwedstryd in Southampton geklop. Honderdtalle van Jacob Bethell en Joe Root het die gashere 414 vir vyf laat aanteken, Engeland se hoogste totaal in eendagwedstryde in drie jaar. In antwoord het Jofra Archer deur die Proteas se kolflys baljaar en vier paaltjies geneem, terwyl die besoekers vir 72 uitgeboul is. Suid-Afrika het die reeks met 2-1 gewen. Die twee lande sal mekaar nou in ‘n T20-reeks van drie wedstryde pak wat Woensdag in Cardiff begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-432-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-590-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….