Goeie Nuus
BULLETIN 5 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die wêreld herdenk vandag Internasionale Dag van Liefdadigheid, en Inyathelo, die Suid-Afrikaanse Instituut vir Vooruitgang, doen ‘n beroep op burgers om NRO’s te ondersteun. Die dag is daarop gemik om bewusmaking te verhoog en mense, NRO’s en belanghebbendes wêreldwyd te mobiliseer om ander te help deur vrywilligers- en filantropiese bedrywighede. Feryal Domingo van Inyathelo sê burgers moet ook vrywilligerswerk doen en bepleit maatskaplike geregtigheid en billikheid:
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie het die gesogte International University Sports Federation Healthy Campus Gold Label-sertifisering gekry. Dis ‘n erkenning van die universiteit se buitengewone toewyding aan gesondheid, welstand en holistiese benadering in studente se ontwikkeling. TUT het gevorder van sy vorige silwer-status en blink uit in die bevordering van fisieke aktiwiteite, geestesgesondheidsorg, voedingsorg, voorkoming van siektes, volhoubaarheid en betrokkenheid by die gemeenskap. Die visekanselier en hoof van die universiteit, professor Tinyiko Maluleke, sê dié prestasie wys die toewyding van TUT aan die welstand van sy studente.
# PepsiCo South Africa en Polyco het ‘n vennootskap gevorm om vroulike herwinners in Pinetown, KwaZulu-Natal, te borg deur die Dignity Foundation en die Supa Mama Women in Recycling-inisiatief. Dit bied finansiële ondersteuning en hulpmiddels soos herwinningstrollies en waardigheidpakkies om die omstandighede waaronder hulle werk te verbeter en moontlike inkomste vir die vroue te verseker. Chantal Philander van Polyco sê met ‘n gesamentlike belegging van meer as 387-duisend-rand het die borgskap 40 spesiaal ontwerpte trollies afgelewer:
# Die Stad Kaapstad sê 104 geleenthede wat in Augustus aangebied is, het ekonomiese aktiwiteite van sowat 200-miljoen-rand vir die metro ingebring. Dit sluit in rugby, rolprente en leefstylfeeste wat sowat 250-duisend mense, insluitend toeskouers en deelnemers, getrek het. Die Rugbykampioenskap-wedstryd tussen Suid-Afrika en Australië in Augustus het die grootste skare getrek met 62-duisend ondersteuners in die Kaapstad Stadion. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê hulle maak al reeds reg om in September nog besiger te wees.
# En laastens: Die Tony-bekroonde musiekblyspel Hamilton word dié naweek in teaters uitgereik. Hamilton is die verhaal van die Amerikaanse volkspionier Alexander Hamilton en sy betrokkenheid by die Amerikaanse Rewolusie. Die verhoogopvoering het 16 benoemings ontvang vir die Tony-toekennings in 2016, waarvan hy 11 gewen het, insluitend dié van Beste Musiekblyspel. Die fliek Hamilton kombineer die beste elemente van ‘n opvoering en film in ‘n mengsel van hip-hop, jazz, R&B en Broadway.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….