Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 5 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met die naweek se groot rugby: Die hulpafrigter van die Springbokke, Mzwandile Stick, het hom nie veel gesteur aan die druk van ‘n toets op Eden Park nie en fokus op hulle voorbereiding vir die wedstryd môre teen die All Blacks in die Rugbykampioenskap. Hy sê hulle gaan op die statistieke fokus en nie op die geskiedenis nie, omdat ‘n wedstryd nie deur geskiedenis gewen word nie. Net Eben Etzebeth, Siya Kolisi en Willie le Roux in die groep van 23, het al voorheen op Eden Park gespeel waar die Bokke die All Blacks laas in 1937 geklop het. Die afskop is om vyf-oor-nege Suid-Afrikaanse tyd.
Nog rugbynuus: Vyf spanne veg die naweek vir ‘n plek in die Curriebeker-kwarteindronde wanneer die laaste groepwedstryde plaasvind. Griekwas is bo-aan die punteleer, net vyf punte voor die vyfde-geplaasde Pumas, met Boland Kavaliers, die Leeus en Griekwas tussenin. Dit beteken ‘n bonuspunt-oorwinning vir die Pumas vanaand in Durban oor die Haaie, wat reeds uitgeskakel is, sal reuse-druk op die ander spanne plaas. Westelike Provinsie, wat laaste op die punteleer is, is môre gasheer vir sy buurman, Boland, in Kaapstad. Die Leeus verwelkom Griekwas in Johannesburg, en die sesde-geplaasde Bulle speel op Loftus teen die Cheetahs.
# Tennis: Die wêreld se nommer een Aryna Sabalenka kry die kans om haar Amerikaanse Ope titel te verdedig wanneer sy môre in die eindstryd teen die Amerikaner, Amanda Anisimova te staan kom. Sabalenka van Belarus, wat ‘n stel agter was, het die Amerikaner Jessica Pegula, met 4-6, 6-3, 6-4 geklop. Sabalenka gaan probeer om die eerste speler te word om agtereenvolgende Amerikaanse Ope vroue-enkelspeltitels te wen nadat Serena Williams tussen 2012 en 2014 drie keer na mekaar gewen het. Anisimova het Naomi Osaka van Japan in drie stelle verslaan om haar eerste eindstryd by Flushing Meadows te haal.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Michael Hollick het vyf onder baansyfer 65 in die tweede ronde van die Sunbet-uitdaging aangeteken om op nege onder baansyfer met een hou voor te loop by die Wild Coast Sun-buiteklub in Port Edward. Sy landgenoot Jacques de Villiers en Joe Knox van Engeland is albei een hou agter die voorloper op agt onder baansyfer. Hollick het vanjaar reeds twee Sonskyntoer-titels ingepalm en sê hy is tot dusver tevrede met sy spel:
# Motorsport: Die sewemalige wêreldkampioen, Lewis Hamilton, sê ondanks sy straf op die wegspringrooster, is hy vuur en vlam vir die naweek se Italiaanse Grand Prix. Dit is sy eerste wedren in Monza vir Ferrari. Die Brit is in verlede naweek se Nederlandse Grand Prix met vyf plekke gestraf vir ‘n geelvlag-oortreding. Hamilton, wat Ferrari se tuisren hoogstens in die sesde plek sal begin, sê hy sal die passievolle Scuderia-ondersteuners se energie verwelkom:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….