Nuus 11:00
BULLETIN 5 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit sê minister Meth moet haar verontagsaming van ‘n hofbevel oor rassekwotas verduidelik
# Die Nasionale Vergadering se speaker oorweeg nog die MK-party se wantrouemosie teen president Ramaphosa
# En, die DRK verklaar ’n Ebola-uitbreking in die Kasai-provinsie waar 15 sterftes aangemeld is
# Solidariteit se minagting-van-die-hof-aansoek het uitgeloop op ‘n tussentydse bevel wat die minister van Werkskepping en Arbeid opdrag gee om in November voor die Johannesburgse Arbeidshof te verskyn. Sy sal moet verduidelik hoekom sy ‘n hofbevel oor rassekwotas in die werkplek verontagsaam het. Anton van der Bijl van Solidariteit sê minister Meth se publikasie van rasseregulasies in die Staatskoerant in April vanjaar is in direkte konflik met die ooreenkoms wat regering en Solidariteit in Junie 2023 bereik het:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, sê sy oorweeg nog die MK-party se wantrouemosie teen president Cyril Ramaphosa. Die mosie is verlede maand ter tafel gelê in die lig van aantygings wat die kommissaris van polisie van KwaZulu-Natal, Nhlanhla Mkhwanazi, teen die Minister van Polisie Senzo Mchunu gemaak het. Dit het plaasgevind toe die party die Konstitusionele Hof genader het om die aanstelling van professor Firoz Cachalia as waarnemende minister van polisie teen te staan. Die MK-party het sy saak in die hoogste hof verloor. Hy wil ‘n geheime stemming hê wanneer daar vir die mosie gestem word.
# ActionSA in Gauteng het die LUR van Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, se voorstel dat taxi- en e-taxi operateurs vir werkpermitte moet aansoek doen voordat hulle voertuie koop, gekritiseer. Die party sê die swak-oorweegde voorstel is onprakties én uit pas met die realiteite wat operateurs en passasiers raak. Emma More van ActionSA sê operateurs kan nie volle besonderhede, soos spesifikasies en registrasienommers verskaf voordat hulle eers die voertuig gekoop het nie:
# Gesondheidsowerhede in die Demokratiese Republiek die Kongo het ‘n uitbreking van die Ebola-virus in die Kasai-provinsie verklaar. In Bulape en Mweka is 28 vermeende gevalle en 15 sterftes, waaronder vier gesondheidswerkers, aangemeld. Die land se vorige Ebola-uitbreking was in April 2022. Die Wêreldgesondheidsorganisasie se streeksdirekteur vir Afrika, Mohamed Janabi, sê hulle is vasbeslote om die virus se verspreiding vinnig te keer en gemeenskappe te beskerm:
# Tennis: Die wêreld se nommer een Aryna Sabalenka kry die kans om haar Amerikaanse Ope titel te verdedig wanneer sy môre in die eindstryd teen die Amerikaner Amanda Anisimova te staan kom. Sabalenka van Belarus wat ‘n stel agter was, het die Amerikaner Jessica Pegula, met 4-6, 6-3, 6-4 geklop. Sabalenka gaan probeer om die eerste speler te word om agtereenvolgende Amerikaans Ope vroue-enkelspeltitels te wen nadat Serena Williams tussen 2012 en 2014 drie keer na mekaar gewen het. Anisimova het Naomi Osaka van Japan in drie stelle verslaan om haar eerste eindstryd by Flushing Meadows te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-146-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-552-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….