Nuus 08:00
BULLETIN 5 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile sê die regering is verbind tot grondrestitusie en -herverspreiding
# Limpopo maak gereed vir groot verkeersvolumes tydens godsdiens-byeenkomste
# En 26 lande beloof na-oorlogse militêre hulp aan Oekraïne
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering versnel die Grondhervormingsprogram terwyl hy landbouproduksie en belegging in die grond ondersteun. Die adjunkpresident, wat voorsitter is van die inter-ministeriële komitee oor grondhervorming en landbou, het die week ‘n oorsigbesoek aan die Wes-Kaap gebring. Mashatile sê as deel van die projek om staatsgrond oor te dra, is die Departement van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling besig om plase in staatsbesit landwyd oor te dra aan huurders wat aan sekere vereistes voldoen:
# Die African Transformation Movement sê daar moet dringend ondersoek ingestel word na korrupsie binne die regbank teneinde openbare vertroue te herstel. Die party het Hoofregter Mandisa Maya geloof vir haar sterk standpunt oor geregtelike onafhanklikheid en gewaarsku teen politieke inmenging. ‘n Woordvoerder van ATM, Zama Ntshona, het kommer uitgespreek oor vertragings in uitsprake soos die Phala Phala-saak wat nog nie opgelos is nie, en gevra vir strenger maatreëls vir aanspreeklikheid, om te verseker dat geregtigheid regverdig en betyds geskied:
# Limpopo se Departement van Vervoer sê hy is gereed om die toename in padverkeer te hanteer wanneer duisende reisigers na verwagting die naweek op die provinsie toesak vir godsdiens-byeenkomste. Wetstoepassers is reeds op strategiese punte langs hoofroetes en op brandpunte ontplooi. Dit sluit die N1, R101 en die D19 in. Die departement se woordvoerder, Dali Tshifhiwa, sê motoriste word aangeraai om na passasiers se veiligheid om te sien deur seker te maak voertuie is padwaardig en almal dra veiligheidsgordels:
# Die Franse president Emmanuel Macron sê 26 lande het beloof om sekuriteitswaarborge aan Oekraïne te verskaf in geval van ʼn skietstilstand. Dit sluit die ontplooiing van soldate op land, see en lug in. Talle Europese lande soos Duitsland, Spanje en Italië het egter tot dusver geweier om hulle tot die verskaffing van soldate te verbind. Macron sê Amerika se bydraes tot die waarborge word binnekort afgehandel. Rusland sê die sekuriteitswaarborge wat Oekraïne eis, is ʼn bedreiging vir die Europese vasteland en absoluut onaanvaarbaar.
# Krieket: Suid-Afrika het Engeland met vyf lopies geklop in die tweede eendagwedstryd op Lord’s en is met ʼn 2-0-voorsprong onoorwonne in die reeks van drie wedstryde. Die speler van die wedstryd, Matthew Breetzke, het 85 van 77 behaal en bygedra tot die Proteas se telling van 330 vir agt. Breetzke is die eerste speler in eendagwedstryd-geskiedenis om in elk van sy eerste vyf wedstryde meer as 50 lopies aan te teken. Nandre Burger het drie paaltjies platgetrek en Engeland beperk tot 325 vir nege. Suid-Afrika het met een wedstryd oor die reeks beklink.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-130-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-555-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….