Nuus 07:00
BULLETIN 5 September 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement se ad hoc-ondersoekkomitee na korrupsie in die SAPD klaar sy getuielys op
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê minister Meth moet haarself skaam oor werksverliese
# En gholf: Michael Hollick van Suid-Afrika loop voor na die tweede ronde van die Sunbet-uitdaging
# Die Parlement se ad hoc-komitee wat bewerings van korrupsie en politieke inmenging in die polisiediens ondersoek, het stappe gedoen om verwarring rondom die getuielys op te klaar. Dit volg na berigte dat ‘n dagvaarding uitgereik is vir die nasionale adjunk-polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, om volgende week voor die komitee te verskyn. Die voorsitter van die komitee, Molapi Lekganyane, sê hulle het slegs moontlike getuies genader om hulle beskikbaarheid na te gaan en te verseker dat hulle toegang tot regsadvies het. Hy voeg by dat ‘n finale besluit oor die lys van getuies gesamentlik deur die volle komitee geneem sal word.
# Die Konstitusionele Hof het AfriForum toestemming gegee om as vriend van die hof op te tree in ‘n saak wat verband hou met die magte en jurisdiksie van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie. Die Appèlhof het in 2024 beslis die kommissie se bevindings is nie op sigself afdwingbaar nie en moet deur ʼn hof afgedwing word. Louis Boshoff van AfriForum voer aan die Grondwet en wetgewing maak dit duidelik die Menseregtekommissie het ooreenkomstig internasionale tendense nie die mag om wetlik bindende besluite te neem nie:
# Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge sê die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, moet haarself skaam en nie besorg wees nie, oor die poste wat verlore gaan by maatskappye soos ArcelorMittal, Ford en Goodyear. Die IRR blameer jare lange ANC-beleide, insluitende streng arbeidswette en minimumloon-reëls vir die groter werkloosheid. Hermann Pretorius van die instituut vra die regering om die kwotas vir breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging te skrap en verdere verhogings in die minimumloon en regulasies vir arbeidhervorming te beeïndig.
# Adjunkpresident Paul Mashatile lewer vandag ‘n virtuele hoofrede by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad, Nedlac, se 30ste Jaarlikse Spitsberaad in Sandton. Die spitsberaad fokus op die bevordering van solidariteit, gelykheid en volhoubaarheid in die ekonomie en op die arbeidsmark. Sake-, arbeids-, gemeenskaps- en regeringsvennote sal kyk na werkersolidariteit, geslags- en rassegelykheid, en klimaatsvolhoubaarheid in lyn met Suid-Afrika se prioriteite vir die G20-presidentskap.
# Die man wat beskuldig word van die moord vroeër vanjaar op twee werknemers van die Israelse ambassade in Washington, DC, het onskuldig gepleit. Die 31-jarige Elias Rodriguez het Yaron Lischinsky en Sarah Milgrim in Mei doodgeskiet toe hulle ʼn geleentheid by die Capital Jewish Museum verlaat het. Hy staan tereg op nege aanklagte, insluitend moord op ʼn buitelandse amptenaar en haatmisdaad wat tot die dood lei. Aanklaers voer aan Rodriguez se haat vir Israel het hom gemotiveer om die twee dood te skiet.
# Gholf: Die Suid-Afrikaner Michael Hollick het vyf onder baansyfer 65 in die tweede ronde van die Sunbet-uitdaging aangeteken om op nege onder baansyfer met een hou voor te loop by die Wild Coast Sun-buiteklub in Port Edward. Sy landgenoot Jacques de Villiers en Joe Knox van Engeland is albei een hou agter die voorloper op agt onder baansyfer. Hollick het vanjaar reeds twee Sonskyntoer-titels ingepalm en sê hy is tot dusver tevrede met sy spel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-407-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-553-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-57-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….