Nuus 17:00
BULLETIN 4 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lamola bevestig Amerikaanse gesprekke te midde van ‘n reis na die Algemene Vergadering
# ‘n Hof bevind die Trump-administrasie het onwettig Harvard se befondsing van 36-miljard-rand teruggehou
# En rugby: Rassie Erasmus sê die Bokke se geloof in hulself op kritieke oomblikke kan ‘n oorwinning oor die All Blacks verseker
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê sy komende reis na Amerika val saam met die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering, waar gesprekke sal fokus op handel en tariewe. Lamola het met SABC News gepraat tydens die Thabo Mbeki-stigting se dialoog en beklemtoon al duur gesprekke met Amerikaanse belanghebbendes voort, moet Suid-Afrika vir die ergste voorberei. Hy beklemtoon die regering moet ‘n uiteenlopende mark versnel om potensiële tariefuitwerkings op plaaslike ondernemings te verminder:
# Die Vereniging van Staatsamptenare het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, versoek om dringend belastingskale aan te pas om tred te hou met inflasie. Die vakbond eis outomatiese, inflasie-gekoppelde aanpassings, deursigtige verslagdoening oor bykomende inkomste en ‘n einde aan verborge belasting. Claude Naiker van die vakbond waarsku die oorskakeling na ‘n hoër belastingskaal kan werkers se netto-salaris ondermyn en veroorsaak dat salarisverhogings betekenisloos is, veral vir laer- en middelinkomste-verdieners.
# Die DA sê die besluit van die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling om voedselbankbedrywighede te sentraliseer, het voedselonsekerheid vererger en duisende mense ly nou honger. Die DA-lid, Refiloe Nt’sekhe, sê desentralisering was beter met 288 organisasies sonder winsoogmerk en vyf streeksbanke. Nt’sekhe is bekommerd omdat ‘n kwartaallikse verslag getoon het slegs 34-duisend-114 pakkies is afgelewer teenoor ‘n teiken van 53-duisend-en-25. Sy sê die departement se mislukkings is ‘n bewys van swak beplanning en swak finansiële beheermaatreëls:
Nuus uit die buiteland:
# Harvard Universiteit het ‘n mylpaal-oorwinning bereik in sy stryd teen die Trump-administrasie toe ‘n federale regter in sy guns beslis het in sy aansoek om byna 36-miljard-rand se federale befondsing vir navorsing terug te kry wat die Withuis bevries het. Die beslissing verwerp die administrasie se betoog dat hy die universiteit geteiken het weens anti-semitisme op kampus. Die beslissing is ‘n reuse-oorwinning vir Harvard, die enigste universiteit wat die Trump-administrasie geteiken het. Die Withuis het intussen aangedui hy gaan appelleer.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê ‘n oorwinning oor die All Blacks in Auckland sal afhang van die span se geloof in homself op kritieke oomblikke. Jesse Kriel sal Suid-Afrika aanvoer in die Rugbykampioenskaptoets, met Eben Etzebeth en Willie le Roux, wat meer as honderd toetse op die kerfstok het, in die opdrafspan. Erasmus sê daar is min te kies tussen die wêreld se twee voorste spanne en klein verskille sal deurslaggewend wees. Hy sê Karl Dickson van Engeland is ‘n goeie skeidsregter en hulle verwag ‘n baie mededingende wedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-770-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-552-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….