Goeie Nuus
BULLETIN 4 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die bekroonde Suid-Afrikaanse rolprent Carissa word nou landwyd in teaters vrygestel. Die prent, geregisseer deur Jason Jacobs en Devon Delmar, het verlede jaar sy wêreldpremière op die Venesiese Rolprentfees gehad. Dit vertel die verhaal van ‘n jong vrou, gespeel deur Gretchen Ramsden, en haar gemeenskap in die hartjie van die Sederberge in die Wes-Kaap. Carissa is ook vertoon op die Santa Barbara-internasionale Rolprentfees in Kalifornië en die BlackStar-rolprentfees in Philadelphia. Dit het verskeie toekennings in Venesië gewen.
# FNB het agt toekennings verower op die Global Finance Best Digital Banks 2025-toekennings – een van die mees gerespekteerde toekennings in wêreldwye finansiële dienste. Die toekennings vier instellings wat die toekoms van bankwese bepaal deur vernuwing, veiligheidsmaatreëls en klante-gesentreerde digitale transformasie. FNB se toekennings sluit in die beste digitale bank vir verbruikers en beste mobiele bankdienste-toepassing in Suid-Afrika, en die beste in transformasie in Afrika. Jacqui O’Sullivan van FNB sê hulle bly gefokus op die vestiging van maatstawwe vir digitale uitnemendheid:
# Die bekende persoonlikhede DJ Zinhle en die aktrise Rami Chuene het aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Ntombazana 2025 Vrouebemagtiging-seminaar deelgeneem waar hulle jong vroue opgehef en inspireer het. Die seminaar het daarop gefokus om vrouestudente te bemagtig om hul potensiaal te besef, uitdagings te bestuur en uitsonderlikheid na te jaag. Volgens TUT het DJ Zinhle en Chuene persoonlike lewenslesse gedeel en studente aangemoedig en opgewonde gemaak om hul drome na te jaag. Die sukses van die geleentheid beklemtoon TUT se toewyding om ruimtes te skep waar vroue bemagtig kan word.
# Die Stellenbosse Sakeskool se 2024 Kleinsake Akademie-student van die jaar, Rucien Petersen, sê sy onderneming is besig om van krag tot krag te gaan. Hy het Spottmedia Limited tydens sy nagraadse navorsing in 2017 gestig. Petersen sê Spottmedia is begin om klein ondernemings te help om bemarkingsgapings te identifiseer en strategieë in te stel wat verder as korttermynoplossings kyk. Hy voeg by Spottmedia het sedert die voltooiing van die program ‘n toename van 20-persent in verkope ervaar en sy kliëntebasis verder as sy plaaslike bemarkingsveld uitgebrei.
# En Ruby Davies van die Nelson Mandela-universiteit is een van sewe meestersgraadstudente landwyd wat die Suid-Afrikaanse Vroue in Wetenskap-toekenning se DSTI–Dr Ivy Matsepe-Casaburri-beurs ontvang het. Die beurs vier uitsonderlike vroulike wetenskaplikes wat wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde in Suid-Afrika en buite sy grense bevorder. Davies se navorsing ondersoek hoe nektar-roof ‘n invloed het op bestuiwersgedrag, stuifmeelbeperking en voortplanting-sukses in die fynbos-bioom van die Kaapse blommestreek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….