Nuus 14:00
BULLETIN 4 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Openbare vertroue in die regering van nasionale eenheid daal tot vlakke voor die verkiesing ondanks aanvanklike optimisme
# Vyf verdagtes word vervolg oor die dodelike slykdamramp in Jagersfontein
# En tientalle mense sterf in ‘n bootramp in Nigerië
# ‘n Nuwe Ipsos-peiling toon agt uit tien Suid-Afrikaners glo die land beweeg in die verkeerde rigting, ondanks aanvanklike optimisme nadat die regering van nasionale eenheid verlede jaar gevorm is. Twee-en-veertig-persent sê RNE-partye werk goed saam, maar bykans ses uit tien is ontevrede oor munisipale dienste, veral in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Meer as die helfte van Suid-Afrikaners ondersteun samewerking tussen partye in plaaslike regering, wat aandui kiesers kan voorkeur gee aan partye wat gesamentlik regeer in aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing.
# Die regering het bevestig dat strafregtelike stappe volgende week begin teen vyf verdagtes in verband met die Jagersfontein-slykdamramp in die Vrystaat in 2022. Drie mense is dood toe die damwal gebreek het. Die woordvoerder van die Departement van Water en Sanitasie, Wisane Mavasa, sê die vyf verdagtes, wat in diens is van ‘n ingenieursmaatskappy, word aangekla van moord, kwaadwillige saakbeskadiging en oortreding van die Wet op Beroepsgesondheid en -Veiligheid:
# Cosatu vra dat die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid die uitfasering van die Posbank as ‘n diensverskaffer vir maatskaplike toelae-betalings moet heroorweeg. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê die vakbondfederasie is uiters ontsteld oor Sassa se aankondiging dat hy van plan is om die Posbank se verwerking van toelae-betalings aan miljoene begunstigdes te beëindig ten gunste van privaat banke:
Nuus uit die buiteland:
# Minstens 29 mense is dood in die noordelike staat Niger in Nigerië toe ‘n boot met ongeveer 100 mense aan boord in ‘n rivier gesink het. ‘n Plaaslike amptenaar het egter aan Reuters gesê die dodetal het tot 60 gestyg. Amptenare sê die boot, wat glo oorlaai was, het ‘n boomstomp getref. Bootongelukke is taamlik algemeen in Nigerië, dikwels weens oorlaaide vaartuie, swak regulasies en onvoldoende veiligheidsmaatreëls. In Desember verlede jaar is 54 liggame uit die Niger-rivier gehaal nadat ‘n boot met meer as 200 passasiers omgeslaan het.
# Tennis: Novak Djokovic hoop om fiks genoeg te wees om behoorlik mee te ding met die jong Spanjaard Carlos Alcaraz in die halfeindronde van die Amerikaanse Ope. Die 38-jarige Serwiër het tot dusver goed gelyk, ook in sy oorwinning oor die vierde-gekeurde Amerikaner Taylor Fritz in die kwarteindronde. Die 22-jarige wêreld-nommer-twee is egter die volslae gunsteling om Djokovic se droom van ‘n rekord 25ste Grand Slam-titel te verydel. Djokovic besef dit gaan moeilik wees, maar gaan alles uithaal om gereed te wees vir ‘n moontlike stryd oor vyf stelle.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-en-49-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-539-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….