Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 4 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus het Jesse Kriel aangewys as kaptein vir Saterdag se Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Nieu-Seeland, met Siya Kolisi op nommer 8. Eben Etzebeth keer terug na die beginspan vir sy 136ste toets, met Ruan Nortjé sy slotmaat. Pieter-Steph du Toit is terug op flank. Die enigste verandering in die agterlyn is die heelagter Willie le Roux wat in sy 101ste toets sal speel. Ethan Hooker sluit by die plaasvervangers Kwagga Smith en Cobus Reinach aan in ‘n vyf-drie verdeling op die bank.
# Krieket: Die Proteas keer terug na die toneel van hulle onlangse triomf in die Wêreldtoetskampioenskap wanneer hulle vandag op Lord’s teen Engeland speel in die tweede eendagwedstryd. Suid-Afrika kan die reeks van drie kragmetings vandag beklink na Dinsdag se oortuigende oorwinning op Headingley. Keshav Maharaj en Wiaan Mulder het die gasheer help uitboender vir net 131, waarna Aiden Markram die Protea-aanslag gelei en die wenteiken bereik het met slegs drie paaltjies plat. Die laaste eendag-kragmeting word Sondag in Southampton gespeel, gevolg deur drie T20s.
Die Protea-kolwer Tony de Zorzi is intussen weens ‘n besering uitgesluit uit die oorblywende twee wedstryde. Hy het die besering opgedoen terwyl hy veldwerk gedoen het op Headingley. Geen plaasvervanger is aangewys nie. Matthew Breetzke het intussen van sy dyspierbesering herstel en is beskikbaar vir vandag se kragmeting.
# Gholf: Jacques de Villiers van Suid-Afrika het ‘n openingsronde van 63 geslaan om saam met Joe Knox van Engeland die voortou te neem op sewe onder baansyfer in die Sonskyntoer se Sunbet-uitdaagtoernooi by die Wild Coast Sun-buiteklub in Port Edward. Albert Venter is twee houe agter die voorlopers en hulle naaste uitdager op 5 onder. De Villiers, wat mik vir sy eerste Sonskyntoer-titel sê hy is in ‘n goeie posisie:
# En ten slotte, tennis: Die verdedigende kampioen, Jannik Sinner, pak die Kanadees Felix Auger-Aliassime in die halfeindronde van die Amerikaanse Ope. Die Italianer het sy landgenoot Lorenzo Musetti in drie stelle verslaan. Auger-Aliassime het die Australiër Alex de Minaur geklop om die eerste keer sedert 2021 die halfeindronde van ‘n Grand Slam-toernooi te haal. Die tweemalige vroue-kampioen, Naomi Osaka van Japan, het die Tsjeg Karolina Muchova in skoon stelle verslaan. Sy speel in die voorlaaste ronde teen die Amerikaner Amanda Anisimova, wat Iga Swiatek van Pole uitgeskakel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….