Nuus 12:00
BULLETIN 4 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die N3 in KwaZulu-Natal word heropen vir verkeer ná ‘n botsing tussen verskeie voertuie
# ‘n Vermeende ontvoeringsbaasbrein is in Kemptonpark doodgeskiet
# En rugby: Jesse Kriel is die Springbok-kaptein teen die All Blacks
# Die KwaZulu-Natalse Verkeersdepartement het bevestig die noordwaartse en die suidwaartse baan van die N3 naby Peace Valley in Pietermaritzburg is weer oopgestel vir verkeer. Die woordvoerder, Sindi Msimang, sê dit volg ná vanoggend se botsing tussen verskeie voertuie wat tot die sluiting in albei rigtings gelei het. Sy sê die ongeluk het plaasgevind toe ‘n vragmotorbestuurder beheer verloor en teen ongeveer 20 ander voertuie gebots het:
# ‘n Vermeende ontvoeringsbaasbrein is doodgeskiet in ‘n skietgeveg met die polisie en ‘n privaat sekerheidsmaatskappy op die R21 in Kemptonpark, Gauteng. Dit volg op die redding van ‘n ontvoerde sakeman van Benoni, Mohammed Bashir Ahmed Seedat. Die 42-jarige is op 23 Julie deur gewapende mans uit sy sakeonderneming, Rynfield Drapers and Outfitters, ontvoer tydens ‘n rooftog. Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die man is ook in Mosambiek gesoek:
Nuus uit die buiteland:
# Slagoffers van Jeffrey Epstein steun ‘n tweeledige voorstel om al die lêers oor die ontslape veroordeelde seksoortreder vry te stel. Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers se Oorsigkomitee het Dinsdag 33-duisend bladsye en verskeie video’s oor hom openbaar gemaak. Die meeste van die lêers is egter reeds in die openbare domein. ‘n Slagoffer, Lisa Phillips, het voor die Capitol gesê hulle het begin om ‘n vertroulike lys van Epstein se medewerkers saam te stel wat hulle sê by die mishandeling betrokke was:
# Rugby: Springbokafrigter Rassie Erasmus het Jesse Kriel aangewys as kaptein vir Saterdag se Rugbykampioenskaps-wedstryd teen Nieu-Seeland, met Siya Kolisi op nommer 8. Eben Etzebeth keer terug na die beginspan vir sy 136ste toets, met Ruan Nortjé sy slotmaat. Pieter-Steph du Toit is terug op flank. Die enigste verandering in die agterlyn is die heelagter Willie le Roux wat in sy 101ste toets sal speel. Ethan Hooker sluit by die plaasvervangers Kwagga Smith en Cobus Reinach aan in ‘n vyf-drie-verdeling op die bank.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-684-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-540-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-2-sent per vat.
# En laastens, die bekroonde Suid-Afrikaanse rolprent Carissa word nou landwyd in teaters vrygestel. Die prent, geregisseer deur Jason Jacobs en Devon Delmar, het verlede jaar sy wêreldpremière op die Venesiese Rolprentfees gehad. Dit vertel die verhaal van ‘n jong vrou, gespeel deur Gretchen Ramsden, en haar gemeenskap in die hartjie van die Sederberge in die Wes-Kaap. Carissa is ook vertoon op die Santa Barbara-internasionale Rolprentfees in Kalifornië en die BlackStar-rolprentfees in Philadelphia. Dit het verskeie toekennings in Venesië gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….