Goeie Nuus
BULLETIN 3 September 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se Fakulteit Inligting en Kommunikasietegnologie het die aktivering van die Mpumalanga Kunsmatige Intelligensie Studente-kuberkraakmarathon 2025 bekendgestel. Die projek wat die derde keer aangebied word, is ‘n belangrike platform vir die fakulteit se studente om KI-toepassings te ontgin. Tydens vanjaar se geleentheid in Oktober neem spanne van tien elk drie dae lank deel aan intensiewe leer, vernuwing en samewerking. TUT sê dit rus studente toe met praktiese tegniese vaardighede en bring hulle in aanraking met mentors in die bedryf.
# Die medenavorser in die Departement Afrikaans, Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat, Naòmi Morgan, het die Universiteit van Johannesburg se prys vir vertaling ontvang. Dit erken buitengewone vertalings uit enige taal na een van Suid-Afrika se amptelike tale. Morgan het die prys ontvang vir haar vertaling van Ons wag vir Godot, gegrond op die ikoniese Franse teks En attendant Godot deur die Ierse dramaturg Samuel Beckett. Sy sê die prys is die hoogtepunt van ‘n proses wat in 1979 begin het.
# Die Stad Kaapstad sê sy Produktiwiteits- en Bevoegdheidsprogram het sedert sy begin net meer as twee jaar gelede, 28 sakeondernemings ondersteun en 776 werksgeleenthede gered. Die program staan klein, medium en mikro-ondernemings by wat in nood is of leiding nodig het oor die verbetering van hul werksaamhede. Die ondernemings word beoordeel en kry dan ‘n volledige sakeplan oor hoe om produktiwiteit en vaardighede te verfyn. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê om te kwalifiseer, moet ondernemings tussen 15 en 100 werknemers in diens hê.
# Die munisipaliteit van George in die Suid-Kaap het ‘n wetstoepassingsdiens van stapel gestuur wat daarop gerig is om die veiligheidsvermoë te versterk. Die nuwe blitspatrollie-eenheid bestaan uit 29 toegewyde amptenare wat in vier bedryfsafdelings ontplooi is. Die munisipaliteit se woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, sê die afdelings is noodsituasies,, sigbare patrollering, gespesialiseerde operasies en noodbystand:
# En ten slotte: Chloe Malle sal Anna Wintour opvolg as hoofredakteur van American Vogue. Die 39-jarige is tans hoof van die digitale redaksie van Vogue. Sy is die dogter van die aktrise Candice Bergen en die regisseur Louis Malle. Wintour het in Junie na amper vier dekades haar aftrede aangekondig. Sy sal aanbly as Vogue se wêreldwye redaksionele direkteur. Wintour sê Malle het bewys sy is in staat om die balans te handhaaf tussen Vogue se lang en besonderse geskiedenis en sy toekoms aan die voorpunt van vernuwing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….