Nuus 07:00
BULLETIN 15 Januarie 7 am
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Nzimande kondig ‘n nuwe befondsingsmodel aan vir die vermiste studente in die middel
# Professor Lourens van Staden is aangestel as die waarnemende NSFAS-voorsitter
# En, 68% Republikeine en onafhanklikes glo Donald Trump is die beste kandidaat
# Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie, Blade Nzimande, het ‘n nuwe befondsingsmodel in die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente bekend gemaak om die vermiste middelstudente te help. Die vermiste middel verwys na studente wie se jaarlikse, gesamentlike gesins-inkomste tussen 350-duisend-rand en 600-duisend-rand is en wat vir die skema kwalifiseer. Nzimande sê die aanvanklike kapitaalfonds vir vanjaar is 3,8-miljard-rand en bestaan uit 1,5-miljard-rand van die NSFAS-fonds en 2,3-miljard-rand van die sektoropleiding- en onderwysowerhede:
Intussen is die voormalige visekanselier van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie, professor Lourens van Staden, met onmiddellike ingang aangestel as die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente se waarnemende voorsitter. Dit volg nadat Ernest Khosa met verlof is na bewerings dat hy en die minister van Hoër Onderwys Wetenskap en Innovasie, Blade Nzimande, gunslone ontvang het van die skema se diensverskaffers. Die minister sê hy het reeds ʼn gesprek met Van Staden gehad en beklemtoon dat dit belangrik is vir die skema om gereed te wees vir die begin van die akademiese jaar:
# Die Noord-Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid het sy ernstige kommer uitgespreek oor die ekonomiese gevolge nadat talle ondernemings moes sluit weens die voortslepende waterkrisis in Kimberley. Die Sol Plaatje-munisipaliteit stel gereeld wateronderbrekings in terwyl hy voortdurend met watervoorsieningsprobleme sukkel. Die kamer se president Dudley Dally sê die langdurige wateronderbrekings het sakeondernemings lamgelê, wat lei tot finansiële en werksverliese. Die munisipaliteit beplan om 104-miljoen-rand toe te wys om die waterprobleme te hanteer.
# Agt-en-sestig-persent Republikeine en die party se onafhanklikes sê oudpresident Donald Trump is die kandidaat met die beste kans om in November verkies te word. Dit is volgens ʼn peiling wat Langer Research Associates vir ABC gedoen het. Nikki Haley kry 12-persent en Ron DeSantis 11-persent. Altesaam 54-persent van dié wat aan die peiling deelgeneem het, sê Trump is die beste gekwalifiseer om as president te dien en 45-persent het hom gekies as die kandidaat wat hulle waardes die beste verteenwoordig. Dit is in aanloop tot vandag se koukusse in Iowa.
# Rugby: Die Cheetahs se kaptein, Victor Sekekete, sê swak dissipline en ʼn verlies aan fokus het hulle ʼn oorwinning teen Pau in Amsterdam gekos. Die Bloemfonteinse span het gister in hulle Europese Uitdaagbeker-wedstryd met 20-33 teen die Franse span verloor. ʼn Oorwinning vir die Cheetahs sou basies vir hulle die weg gebaan het na die uitspeelwedstryde. Pau is ná hulle sege weer vol hoop om die ronde van 16 te haal. Sekekete sê hulle moet nou op hulle volgende wedstryd teen Oyonnax in Frankryk fokus:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-298-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-54-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-51-sent per vat.
# En ten slotte, die modeweek vir mansdrag skop hierdie week in Parys af met die musikant wat modeontwerper geword het, Pharrell Williams, as hoofaantrekkingskrag. Pharrell is Louis Vuitton se nuwe kreatiewe direkteur. Vuitton se vertoning is vanjaar onder die kermisterrein-geleenthede van die Jardin d’Acclimatation in die weste van Parys waar die handelsmerk se jongste ambassadeur onder beroemdes, die basketbalspeler LeBron James te sien sal wees. Twee-en-veertig handelsmerke sal tydens die mansdragweek vertonings op die loopplank lewer terwyl nog 32 hulle nuwe reekse bekend sal stel. Dit sluit Givenchy, Gucci, Chloe, Alexander McQueen en Balmain in.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….