Nuus 14:00
BULLETIN 3 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Giwusa eis die hernasionalisering van Sasol
# Uiters gevaarlike veldbrandtoestande duur voort in drie provinsies
# En Trump dreig om soldate in Chicago te ontplooi om die misdaadprobleem op te los
# Die vakbond Giwusa eis die hernasionalisering van Sasol en die onteiening van alle privaat oliemaatskappye, raffinaderye en kleinhandelnetwerke. President Mametlwe Sebei sê hierdie bates moet gekonsolideer en ‘n nuwe, kragtige Suid-Afrikaanse Nasionale Petroleummaatskappy op die been gebring word. Hy sê hierdie organisasie se mandaat sal wees om die bedrogspul met invoere te verbreek en brandstofpryse vir die mense te verlaag en nie winste vir aandeelhouers te maak nie:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die toenemende werksverliese weens maatskappye wat hul bedrywighede afskaal of die land heeltemal verlaat, is kommerwekkend. ArcellorMittal SA maak einde September toe met drie-duisend-500 werksgeleenthede wat verlore gaan. Ford in Suid-Afrika gaan 474 werkers aflê by sy aanlegte in Gqeberha en Pretoria. Die IRR se woordvoerder, Makone Maja, sê die reuse-beperkinge op sake-ondernemings in Suid-Afrika moet deeglik hersien word en aandag kry:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê die uiters gevaarlike veldbrandtoestande in Limpopo, Mpumalanga en Gauteng sal voortduur. Hy sê volgens hierdie toestande is die Brandgevaar-aanwyser bo 75. Die Tshwane-nooddienste se woordvoerder, Lindsay Mnguni, sê die warm, winderige toestande kan weghol-veldbrande veroorsaak en bestaande brande vererger:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het beloof om Chicago se misdaadprobleem vinnig op te los en daarop gesinspeel om soldate te stuur na die stad wat hy as die gevaarlikste ter wêreld bestempel. Hy skryf op sy Truth Social-platform hy sal die misdaadprobleem vinnig verwyder soos in die hoofstad, Washington DC, waar hy verlede maand reserviste van die Nasionale Wag ontplooi het. Trump het herhaaldelik gedreig om militêre personeel te stuur na Demokratiese vestings soos Chicago en Baltimore, wat hy beskryf as misdaad-brandpunte vol ongedokumenteerde immigrante.
# Krieket: Die Engelse snelbouler Jamie Overton gaan waarskynlik die reeks om die As teen Australië misloop na sy aankondiging van ‘n onbepaalde verposing van toetse. Sy insluiting het seker gelyk nadat hy in Julie in die laaste toets teen Indië gespeel het, maar hy sê sy deelname aan alle formate het sy tol geëis. Die 31-jarige Overton sê hy kan nie meer fisies en geestelik toegewy wees aan toetse én witbalkrieket nie. Engeland se witbalkaptein, Harry Brook, beskryf die besluit as ‘n verrassing, maar sê hy respekteer dit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-428-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-534-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….