Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Suid-Afrika het Engeland met sewe paaltjies geklop op Headingley in Leeds om die voortou te neem in die reeks van drie eendag-wedstryde . Keshav Maharaj het vier paaltjies geneem en Wiaan Mulder drie en die tuisspan is in hulle 25ste boulbeurt vir slegs 131 uitgeboul. Aiden Markram het daarna 86 van slegs 55 balle aangeteken tydens ‘n aanvangsvennootskap van 121 met Ryan Rickelton. Die Proteas het die wenteiken in hulle 21ste boulbeurt gehaal. Die tweede kragmeting word môre op Lord’s gespeel.
Nog krieketnuus: Australië se kaptein, Pat Cummins, behoort fiks te wees vir die begin van die reeks om die As teen Engeland ondanks ‘n rugprobleem. Die besering beteken hy gaan volgende maand se drie T20s in Nieu-Seeland misloop, asook ‘n eendag- en ‘n T20-tuisreeks teen Indië. Die eerste van die vyf toetse begin op 21 November in Perth. Cummins het 18 paaltjies geneem in die vorige reeks in Engeland in 2023, wat gelykop geëindig en Australië die As laat behou het.
# Rugby: Die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe sê vorige oorwinnings oor die All Blacks sal niks tel wanneer hulle Saterdag in Auckland kragte meet nie. Hulle gaan probeer om die eerste Bok-span sedert 1937 te word wat op Edenpark wen en die gashere sal hul onoorwonne rekord op die veld sedert 1994 verdedig. Suid-Afrika het hulle laaste vier wedstryde gewen, maar Kolbe sê Saterdag se uitdaging gaan op ‘n ander vlak wees. Hy glo dis uiters belangrik vir die Bokke om op hulle wedstrydplan gefokus te bly.
# Gholf: Die Suid-Afrikaanse sensasie Aldrich Potgieter keer terug na Sun City vir die Nedbank-toernooi van 4 tot 7 Desember nadat hy dit verlede jaar byna gewen het met sy eerste probeerslag. Saam met hom is Christiaan Bezuidenhout, wat al verskeie toernooie op die DP World-toer gewen het. Die 20-jarige Potgieter is die jongste Suid-Afrikaanse wenner in die geskiedenis van die PGA-toer na sy oorwinning in die Rocket Classic in Junie. Hy is tans die Suid-Afrikaner met die hoogste plasing op die wêreldranglys, net buite die top-50.
# En tennis: Die 38-jarige Novak Djokovic het ‘n langverwagte halfeindstryd teen Carlos Alcaraz bespreek op die Amerikaanse Ope. Die Serwiër het die Amerikaner Taylor Fritz in vyf stelle verslaan in sy aanslag op die rekord van 25 Grand Slam-enkelspeltitels. Die Spanjaard het die Tsjeg Jiri Lehecka in skoon stelle geklop. In die vroue-afdeling het die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, die halfeindronde gehaal toe die Tsjeg Marketa Vondrousova weens ‘n kniebesering onttrek het. Sy speel teen die Amerikaner Jessica Pegula in ‘n herhaling van verlede jaar se eindstryd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….