Nuus 12:00
BULLETIN 3 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu sluit aan by Numsa in die stryd teen afleggings by Ford
# ‘Soil of Africa’ eis optrede oor beweerde seksuele aanranding by ‘n skool in Soshanguve
# En, VF Plus eis die skorsing van Munisipaliteit Stellenbosch se Menslike Hulpbronne-bestuurder
# Die vakbondfederasie Saftu sê die motorbedryf staan voor ‘n bloedbad ná Ford se plan om poste te besnoei by sy aanlegte in Gauteng en die Oos-Kaap. Die federasie het by die metaalwerkersvakbond Numsa aangesluit om die afleggings te veroordeel en waarsku dit volg op die hakke van besnoeiings by Mercedes-Benz en ArcelorMittal Suid-Afrika, wat die land se nywerheidsbasis bedreig. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, vra ‘n noodberaad om afleggings te stop, regeringsubsidies aan motormaatskappye te hersien en werksgeleenthede te beskerm:
# Die burgerlike organisasie Soil of Africa eis dringende optrede van die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, oor bewerings van seksuele aanranding by die Tiyelelani Secondary School in Soshanguve, Tshwane. ‘n Onderwyser het na bewering ‘n leerder seksueel aangerand en ‘n busbestuurder word beskuldig van ‘n ongehoorde verhouding met ‘n skoolmeisie. Die organisasie se voorsitter, Bongani Ramontja, sê geen leerder behoort bang te wees om skool toe te gaan nie:
# Die Vryheidsfront Plus vra die DA om onmiddellik op te tree teen die Munisipaliteit Stellenbosch se bestuurder van Menslike Hulpbronne, Alexander Kannemeyer. Dit volg ná ‘n video op sosiale media waarin hy na bewering voorstel hulle maak die lewe vir wit werknemers so moeilik dat hulle bedank. Gert van Niekerk van die VF Plus sê Kannemeyer het ook gesê die gebruik om bevoegde en gekwalifiseerde mense aan te stel, lei daartoe dat wit kandidate, en veral wit mans, voorkeur kry:
# Tennis: Die 38-jarige Novak Djokovic het ‘n langverwagte halfeindstryd teen Carlos Alcaraz bespreek op die Amerikaanse Ope. Die Serwiër het die Amerikaner Taylor Fritz in vyf stelle verslaan in sy aanslag op die rekord van 25 Grand Slam-enkelspeltitels. Die Spanjaard het die Tsjeg Jiri Lehecka in skoon stelle geklop. In die vroue-afdeling het die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, die halfeindronde gehaal toe die Tsjeg Marketa Vondrousova weens ‘n kniebesering onttrek het. Sy speel teen die Amerikaner Jessica Pegula in ‘n herhaling van verlede jaar se eindstryd.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-156-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-539-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-82-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Franse wynmaker is tronkstraf opgelê omdat hy vervalste sjampanje gemaak en verkoop het. Didier Chopin het honderde-duisende bottels van die drank verkoop. Hy’t dit gemaak van druiwe uit Spanje en die suide van Frankryk en geure en gas bygevoeg om dit te laat borrel. ‘n Hof in die grootste stad in die Champagne-streek, Reims, het hom tot 18 maande agter tralies gevonnis terwyl nog 30 maande opgeskort is. Chopin se vrou is ‘n opgeskorte vonnis van twee jaar opgelê op dieselfde aanklagte.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….