Nuus 11:00
BULLETIN 3 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie kry slegs afskrifte van 121 dossiere wat die middelpunt is van die polisiekorrupsie-ondersoek
# ActionSA vra die Parlement om werkers se pensioene teen korrupsie te beskerm
# En tennis: Carlos Alcaraz en Novak Djokovic pak mekaar in die halfeindronde van die Amerikaanse Ope
# Die polisie sê die Madlanga-kommissie gaan slegs afskrifte kry van die 121 dossiere wat die middelpunt is van bewerings oor polisiekorrupsie. Die oorspronklike dossiere sal by die KwaZulu-Natalse taakspan oor politieke moorde bly. Die kommissie se opdrag is om misdadigheid, politieke inmengery en korrupsie in die strafregstelsel te ondersoek. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê hulle ondersteun die kommissie se werk ten volle:
# ActionSA sê die Parlement moet optree om staatswerkers se pensioene teen korrupsie te beskerm. Die party het die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge versoek om die leierskap van die Agentskap vir die Administrasie van Regeringspensioene en die minister van Finansies, Enoch Godongwana, te ontbied ná berigte rakende spookwerkers. Matthew George van ActionSA sê ‘n biometriese kontrak van 500-miljoen-rand is toegeken aan ‘n maatskappy sonder direkteure, en byna 36-miljoen-rand is betaal vir opknappings aan ‘n gebou wat nie bestaan nie:
# Die Protea-Landdroshof het die saak teen die beskuldigdes in die moord op die Gautengse verkeersbeampte Chesnay Keppler na die Hooggeregshof in Johannesburg oorgeplaas vir ‘n voorverhoor vanaf volgende Donderdag. Die voormalige polisiebeampte Mandla Buthelezi en sy medebeskuldigde, Llewellyn Mayers, staan tereg op aanklagte van onder meer moord, poging tot moord, regsverydeling en oortreding van die Wet op die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat. Die Keppler-familie se regsverteenwoordiger, Windel Bloem, het aan SABC News gesê die aanklagte is op albei beskuldigdes beteken:
Nuus uit die buiteland:
# Die Chinese president, Xi Jinping, sê sy land is onstuitbaar en sal hom nie deur boelies laat intimideer nie. Hy het vandag ‘n militêre parade op Tiananmen-plein inspekteer op die 80ste herdenking van die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Die Russiese president, Vladimir Putin, en die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong Un, het dit bygewoon. Tydens die parade is honderde gevorderde wapentuig vertoon, insluitend ballistiese missiele en reuse-onderwater-hommeltuie. Xi het gespog met China se vordering op die wêreldverhoog en ontwikkeling tot ‘n supermoondheid.
# Tennis: Die 38-jarige Novak Djokovic het ‘n langverwagte halfeindstryd teen Carlos Alcaraz bespreek op die Amerikaanse Ope. Die Serwiër het die Amerikaner Taylor Fritz in vyf stelle verslaan in sy aanslag op die rekord van 25 Grand Slam-enkelspeltitels. Die Spanjaard het die Tsjeg Jiri Lehecka in skoon stelle geklop. In die vroue-afdeling het die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka van Belarus, die halfeindronde gehaal toe die Tsjeg Marketa Vondrousova weens ‘n kniebesering onttrek het. Sy speel teen die Amerikaner Jessica Pegula in ‘n herhaling van verlede jaar se eindstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-660-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-534-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….