Nuus 09:00
BULLETIN 3 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra vir die ontbinding van die regering se pensioenadministrasie-agentskap
# Die parlementêre komitee oor Basiese Onderwys verwelkom pogings om betaling aan spook-onderwysers te staak
# En ‘n Amerikaanse Huiskomitee stel meer as 33-duisend bladsye Jeffrey Epstein-verwante lêers vry
# Die DA vra vir die ontbinding van die regering se pensioenadministrasie-agentskap en dat die Regeringswerknemers Pensioenfonds sy werk oorneem ter wille van die beskerming van pensioentrekkers en belastingbetalers. Die agentskap word beskuldig van onwettige aankope en onder meer die toeken van ‘n biometriese kontrak van 500-miljoen-rand aan ‘n maatskappy sonder enige direkteure. Willie Aucamp van die DA sê die teiken van fluitjieblasers wat die beweerde stelery by die agentskap bloogestel het, is onaanvaarbaar:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys het die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys geloof vir sy pogings om onderwysers landwyd na te gaan. Die raad het verlede maand sy ondersoek by meer as 22-duisend staatskole begin om spookonderwysers te identifiseer en bewerings oor die verkoop van onderwysposte te ondersoek. Volgens berigte word onderwysposte teen tot 25-duisend-rand per pos verkoop. Die komiteevoorsitter, Joy Maimela, sê deur te verseker elke persoon op die betaalstelsel is wettig, sal finansiële verliese bekamp word.
# Die Vryheidsfront Plus sê ‘n deeglike ontleding van die Ekurhuleni-munisipaliteit se ongeouditeerde jaarverslag en finansiële state vir 2024/2025 onthul ernstige tekortkominge wat bestuur, dienslewering en finansiële verantwoordbaarheid betref. Volgens die verslag het die metro slegs 79-persent van sy teikens bereik terwyl daar aan 21-persent niks gedoen is nie. ʼn VF Plus-woordvoerder, Denise Janse van Rensburg, sê die Finansiële Departement het slegs 56-persent van sy teikens gehaal terwyl die jaarlikse begroting met 50-miljard-rand oorskry is:
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers se oorsigkomitee het meer as 33-duisend bladsye van Jeffrey Epstein-verwante lêers vrygestel wat van die Justisiedepartement ontvang is. Dit sluit in vlugplanne, toesigvideo’s van die tronk, hofdokumente, opnames en e-posse. Epstein, ʼn finansier en veroordeelde seksoortreder, het in 2019 selfdood gepleeg terwyl hy verhoorafwagtend was op aanklagte van sekshandel. Die top-Demokraat in die komitee, Robert Garcia, sê 97-persent van die vrygestelde dokumente is reeds in die openbaar:
# Krieket: Australië se kaptein, Pat Cummins, behoort fiks te wees vir die begin van die reeks om die As teen Engeland ondanks ‘n rugprobleem. Die besering beteken hy gaan volgende maand se drie T20s in Nieu-Seeland misloop, asook ‘n eendag- en T20-tuisreeks teen Indië. Die eerste van die vyf toetse begin op 21 November in Perth. Cummins het 18 paaltjies geneem in die vorige reeks in Engeland in 2023, wat gelykop geëindig en Australië die As laat behou het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-989-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-535-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….