Nuus 08:00
BULLETIN 3 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile bekommerd oor Madlanga-kommissie se aanvang vertraag word
# My Vote Counts sê die land se stelsel vir politieke befondsing moet meer deursigtig wees
# En elf dood in Amerikaanse aanval op boot wat blykbaar dwelms uit Venezuela vervoer
# Adjunkpresident Paul Mashatile het kommer uitgespreek oor vertragings wat keer dat die Madlanga-kommissie sy werk begin. Die kommissie moet misdadigheid, politieke inmengery en korrupsie in die strafregstelsel ondersoek. Sy sittings sou Maandag, 1 September, begin maar dis uitgestel weens vertraging in die verkryging van die nodige infrastruktuur. Mashatile sê hy glo ‘n nuwe datum sal binnekort aangekondig word:
# My Vote Counts sê die Verkiesingskommissie se jaarlikse verslag oor politieke partye se befondsing ontbloot die behoefte aan ʼn meer deursigtige en aanspreeklike befondingstelsel. Die verslag dek die tydperk van 1 April 2023 tot 31 Maart 2024, en toon politieke partye het in totaal meer as 3,2-miljard-rand se befondsing ontvang. Die ANC en DA het meer as 73-persent van alle fondse gekry. My Vote Counts sê sonder beter toegang tot inligting oor partye se befondsingsbronne, uitlening-aktiwiteite en uitgawes, bly die vermoë beperk om privaat belange wat politiek beïnvloed, op te spoor.
# AfriForum sê die Stellenbosch-munisipaliteit se bestuurder van Menslike Hulpbronne, Alexander Kannemeyer, moet uit sy pos verwyder word omdat hy nie vertrou kan word om wettige en onpartydige besluite te neem nie. Dit volg nadat ʼn video op sosiale versprei is waarin Kannemeyer na bewering voorstel die lewe word moeilik gemaak vir wit werkers sodat hulle bedank, en vervang word met die munisipaliteit se voorkeurkandidaat. Morné Mostert van AfriForum sê die gemeenskap sal op die ou einde ly indien die munisipaliteit volhou met sy rasgebaseerde vendetta:
# Die Amerikaanse Weermag het ʼn dodelike aanval by die Karibiese Eilande uitgevoer op ʼn Venezolaanse boot met dwelms aan boord. Elf mense, vermoedelik lede van die Venezolaanse bende Tren de Aragua, is in die aanval dood. President Donald Trump sê die aanval is uitgevoer terwyl die terroriste onwettige dwelms in internasionale waters na Amerika vervoer het. Die land se minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê hulle sal veg teen dwelmkartelle wat Amerika se strate oorneem en landsburgers se dood veroorsaak:
# Gholf: Suid-Afrika se gholf-sensasie Aldrich Potgieter keer terug na Sun City vir die Nedbank-toernooi van 4 tot 7 Desember nadat hy dit verlede jaar met sy eerste probeerslag byna gewen het. Saam met hom is Christiaan Bezuidenhout, wat al verskeie toernooie op die DP World-toer gewen het. Die 20-jarige Potgieter is die jongste Suid-Afrikaanse wenner in die geskiedenis van die PGA-toer na sy oorwinning in die Rocket Classic in Junie. Hy is tans die Suid-Afrikaner met die hoogste plasing op die wêreldranglys, net buite die top-50.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-99-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-531-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….