Nuus 18:00
BULLETIN 2 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra die Parlement om die magstryd tussen die waarnemende minister en die polisiekommissaris te beëindig
# SA Toerisme se ontbinde raad daag De Lille se besluit uit as onwettig
# En krieket: Proteas jaag ‘n wenteiken van 132 in hulle eerste eendagwedstryd teen Engeland
# Die DA sê die Parlement se portefeuljekomitee oor Polisie moet dringend die broeiende magstryd oplos tussen die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, en nasionale polisiekommissaris Fannie Masemola. Die geskil is veroorsaak deur die terugbesorging van 121 politieke moorddossiere aan die KwaZulu-Natalse taakspan. Lisa Schickerling van die DA glo die magstryd kan ondersoeke vertraag en openbare vertroue in die polisie ondermyn:
# AfriForum sê die Nasionale Vervolgingsgesag se bewering dat die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, steeds ondersoek word, is verdag. Mabuyane word van korrupsie beskuldig wat verband hou met die onwettige verspreiding van fondse deur die sakeman Lonwabo Bam, insluitend betalings wat verband hou met vervoerreëlings vir Winnie Madikizela-Mandela se begrafnis. Barry Bateman van AfriForum sê die privaat vervolgingseenheid kan oorweeg om Mabuyane en ander amptenare te vervolg om te verseker die saak verloop sonder politieke inmenging:
# Die Suid-Afrikaanse Toerismeraad sê die minister van Toerisme, Patricia de Lille, se redes vir die ontbinding van die raad het die toets van goeie rede ingevolge die Wet op Toerisme gedruip. ‘n Voormalige raadslid, Lawson Naidoo, het aan die Parlement gesê die raad is die kans ontsê om op die minister se tweede brief te reageer. Hy het bedankings, skorsings en bedryfs-uitdagings aangehaal wat die kritieke kwartaallikse vergadering beïnvloed het:
# Krieket: Suid-Afrika jaag ‘n wenteiken van net 132 in die eerste eendagwedstryd teen Engeland op Headingley in Leeds. Temba Bavuma het die loot gewen en die gasheer ingestuur om te kolf. Ben Ducket het sy paaltjie verloor met slegs 13 lopies op die telbord, waarna Engeland gesukkel het om vennootskappe te bou. Die laaste paaltjie het in die 25ste boulbeurt geval met die totaal op 131. Jamie Smith se 54 was die hoogste telling. Die draaibouler Keshav Maharaj het vier paaltjies geneem en Wiaan Mulder drie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-47-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-497-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….