Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Krieket: Die Proteas, wat pas witbalreekse met gemengde uitslae in Australië voltooi het, pak Engeland vandag in die eerste van drie eendagwedstryde op Headingley in Leeds. Suid-Afrika het die eendagreeks teen die Aussies 2-1 gewen nadat hulle die T20-reeks 1-2 verloor het. Die Proteas is tans sesde op die eendagwêreldranglys en Engeland agtste. Die oorblywende eendagwedstryde word Donderdag op Lord’s gespeel en Saterdag in South Hampton, gevolg deur T20’s in Wallis, Manchester en Nottingham vanaf volgende Woensdag.
Nog krieketnuus is dat 300 Suid-Afrikaners en 241 buitelanders volgende Dinsdag in Johannesburg gaan deelneem aan die veiling vir SA20 se vierde seisoen. Die liga het ‘n ongekende meer as 800 speler-registrasies ontvang, waarna die lys verkort is volgens die ses spanne se hersiening. Onder die sterk plaaslike talent is die Proteas se T20-kaptein, Aiden Markram, Quinton de Kock, Keshav Maharaj, Wiaan Mulder, Lungi Ngidi en Dane Paterson. Die oorsese spelers sluit in die veteraan-Engelsman Jimmy Anderson, sy landgenoot Moeen Ali, die Australiër D’Arcy Short en die Nieu-Seelander Devon Conway.
# Oor na rugby: Springbokafrigter, Rassie Erasmus, sê die besluit om Asenathi Ntlabakanye nie in te sluit in die groep vir die reeks van twee toetse in Nieu-Seeland nie, is om hom te beskerm. Die 26-jarige speler het positief getoets vir ‘n verbode middel. SA Rugby het bevestig ʼn sportdokter het dit voorgeskryf om ʼn gesondheidsprobleem te behandel. Erasmus sê indien Ntlabakanye op toer was, sou hy baie vrae moes antwoord, wat sy fokus kon verskuif van die wedstryd wat voorlê.
Erasmus sal na verwagting eers Donderdag sy groep aankondig vir Saterdag se Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die All Blacks in Auckland. Hy wag steeds op nuus oor die beseerde kaptein, Siya Kolisi, en die veteraan Willie le Roux. Die ervare skrumskakel Faf de Klerk is die naweek na Nieu-Seeland ontbied nadat die haker Bongi Mbonambi verkies het om tuis te bly om na gesins-aangeleenthede om te sien. Erasmus sê hulle is nie seker wat om van die All Blacks te verwag nie:
# En laastens, atletiek: Die opkomende ster-naelloper Bayanda Walaza is ingesluit in die Suid-Afrikaanse span van 49 atlete vir die Wêreldkampioenskap wat volgende Saterdag in Tokio afskop. Die 19-jarige het Donderdag vermoedelik ‘n dyspier seergemaak in die eindronde van die 100-meter op die Diamantliga-byeenkoms in Zürich, Switserland. Sy insluiting in die groep is blykbaar nie ‘n waarborg van fiksheid nie. Die span bestaan uit 32 mans, 17 vroue en 11 aflos-atlete.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….