Nuus 09:00
BULLETIN 2 September 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus doen ‘n beroep op ‘n ondersoek by die Staatspensioenagentskap
# Cosatu is bekommerd oor die potensiële werkslagting as gevolg van die Amerikaanse tariewe
# En meer as ‘n duisend mense is dood in ‘n grondverskuiwing in Soedan
# Die Vryheidsfront Plus veroordeel die wanbestuur van fondse by die Agentskap vir Administrasie van Regeringspensioene. Die agentskap bestuur aftreebates van sowat drie-duisend-miljard-rand van staatsamptenare en werkers van semi-staatsinstellings. Talle verkrygingskontrakte van die agentskap bevat moontlik onregmatighede van meer as 1,2-miljard-rand. Anton Alberts van die VF Plus sê die agentskap se vermeende wanbestuur van fondse kom teen die agtergrond van verliese van miljarde rand deur die Staatspensioenfonds:
# Cosatu sê Suid-Afrika se ekonomiese krisis gaan vererger ná Amerika se instelling van handelstariewe van 30-persent. Die vakverbond sê hy is bekommerd oor die moontlikheid van aansienlike werksverliese as gevolg van hierdie tariewe op die land se uitvoere na die wêreld se grootste ekonomie. Cosatu-woordvoerder, Zanele Sabela, sê die verwoestende uitwerking van die tariewe is reeds sigbaar ná die sluiting van Goodyear in Uitenhage, en Mercedes-Benz se tydelike staking van produksie:
# Die GOOD-party sê die Wes-Kaap se werkloosheidsyfer lyk prysenswaardig op papier, maar die provinsie het die afgelope dekade konsekwent ‘n laer werkloosheidsyfer aangemeld as die res van Suid-Afrika. Volgens Statistieke SA se kwartaallikse arbeidsmagopname vir die tweede kwartaal vanjaar het die Wes-Kaap ‘n werkloosheidsyfer 21,1-persent, teenoor die landwye gemiddeld van 33,2-persent. Suzette Little van GOOD sê 900-duisend werksoekers is op die Stad Kaapstad se Uitgebreide Openbare Werke-program geregistreer:
# ‘n Grondstorting het minstens ʼn duisend lewens geëis in die afgeleë Marra-berge in die weste van Soedan. Die grondstorting het Sondag plaasgevind na dae lange swaar reën, en slegs een persoon het oorleef. Die Soedannese Bevrydingsbeweging/Weermag, wat die area in die Darfoer-streek beheer, het die Verenigde Nasies en internasionale hulpagentskappe se bystand gevra om die slagoffers, wat kinders insluit, se liggame te vind. ʼn Burgeroorlog woed sedert April 2023 in dié land nadat geweld tussen die Soedannese Weermag en die paramilitêre groep, Rapid Support Forces, uitgebreek het.
# Sokker: Die Premierliga-kampioen Liverpool het Alexander Isak van Newcastle teen ‘n rekordbedrag van meer as 290-miljoen-rand in Brittanje bekom. Die Sweedse doelskieter se kontrak by Anfield is vir ses jaar. Hy het die vorige seisoen 23 doele vir Newcastle in die Premierliga aangeteken en het in die eindstryd van die Carabao-beker met die wendoel teen Liverpool op Wembley ‘n einde gemaak van die klub se wendroogte van 70 jaar in ‘n groot plaaslike reeks. Isak is die agtste speler wat Liverpool in die huidige oordragvenster bekom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63 sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-85 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 110-duisend-268 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-493-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….