Nuus 06:00
BULLETIN 2 September 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit sê die werkverliese in die staalbedryf is die regering se skuld
# Die Spesiale Ondersoekeenheid se omvang word uitgebrei
# En krieket: Suid-Afrika en Engeland pak mekaar vandag in hul eerste eendagwedstryd in Leeds
# Solidariteit sê meer as vierduisend werksgeleenthede is in gevaar terwyl ArcelorMittal Suid-Afrika voorberei om sy langstaal-aanlegte in Newcastle, KwaZulu-Natal, en Vereeniging in Gauteng te sluit. Die vakbond skryf dit toe aan die regering se gebrek aan optrede, met verwysing na hoë elektrisiteitskoste, swak spoorwegstelsels en onvoldoende invoerbeskerming. Hulle beloof om betrokke lede te steun deur alle wets- en arbeidsmaatreëls te gebruik om werksgeleenthede te beskerm. Willie Venter van Solidariteit waarsku die sluitings kan uitkring en afleggings in ander nywerhede veroorsaak:
# Die minister van Kommunikasie en Tegnologie, Solly Malatsi is bekommerd oor die toename in inhoud wat deur kunsmatige intelligensie gegenereer word. Malatsi het tydens die Media 20-beraad in Johannesburg gewaarsku dat diepvervalsings ingespan kan word om burgers te mislei en narratiewe te manipuleer. Die minister sê hoewel KI baie voordele bied, hou dit ook ongekende risiko’s in indien dit misbruik word. Hy het die dringende behoefte aan verantwoordelike KI-bestuur en etiese riglyne beklemtoon om te verseker dat opkomende tegnologieë die openbare diskoers versterk:
# President Cyril Ramaphosa het ‘n bevel onderteken wat die omvang van die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek na die Geïntegreerde Finansiële Bestuurstelsel-tender uitbrei. Aanvanklik het die eenheid slegs op die Nasionale Tesourie gefokus. Die omvang is nou verbreed om die Staatsinligtingstegnologie-agentskap en die Departement van Staatsdiens en Administrasie in te sluit. Dit sal enige beweerde ernstige wanadministrasie in Sita en die departement, onbehoorlike of onwettige gedrag deur werknemers, en onwettige toe-eiening of besteding van openbare fondse insluit.
# Die Bronkhorstspruit-landdroshof het borgtog aan twee leerders van die Lesedi Secondary School toegestaan wat van voorbedagte moord beskuldig word. Borgtog van ses-duisend-rand is aan die graad 12-leerder Mlehalinye Montasi toegestaan, terwyl die graad 10-leerder Kgotlhello Mathabathe borgtog van drie-duisend-rand gekry het. Hulle het na bewering ‘n mede-leerder Lethabo Mokonyane op 17 Junie na ‘n woordewisseling met ‘n skerp voorwerp gesteek. Die Nasionale Vervolgingsgesag sê ondanks kommer oor vlugrisiko en getuie-inmenging, is borgtog onder streng voorwaardes goedgekeur. Die saak hervat op 10 Oktober 2025.
# Leiers van Frankryk en Brittanje is Donderdag mede-voorsitters van ‘n Paryse spitsberaad waarby die Oekraïense president, Volodimir Zelensky, betrokke is. Dis deel van ‘n nuwe internasionale poging om ‘n einde te maak aan Rusland se inval van drie-en-‘n-half-jaar. Die byeenkoms van die sogenaamde “Koalisie van Gewilliges” sal sowat 30 hoofsaaklik Europese lande insluit. Sommige leiers sal dit persoonlik bywoon en ander sal virtueel aansluit. Hulle sal die werk nagaan wat die afgelope weke aan veiligheidswaarborge vir Oekraïne gedoen is en die moontlike gevolge van Rusland se houding teenoor vrede bespreek.
# Krieket: Die Proteas, steeds vars van hulle witbalreeks met gemengde uitslae in Australië, pak Engeland vandag in die eerste van drie eendagwedstryde op Headingly in Leeds. Suid-Afrika het die eendagreeks teen die Aussies met 2-1 gewen nadat hulle met 1-2 in die T20-reeks verloor het. Die Proteas is tans sesde op die eendagwêreldranglys en Engeland agtste. Die oorblywende eendagwedstryde word Donderdag by Lord’s en Saterdag by South Hampton gespeel, gevolg deur T20’s in Wallis, Manchester en Nottingham vanaf volgende Woensdag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-794-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-477-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….