Nuus 18:00
BULLETIN 1 September 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die Lilian Ngoyistraat-opgradering in Johannesburg oorskry sy begroting met 40-miljoen-rand en is steeds nie voltooi nie
# Steenhuisen sê die bek- en-klouseer-krisis raak verskaffingskettings en voedselsekerheid
# En krieket: Suid-Afrika en Engeland pak mekaar môre in die eerste eendagwedstryd op Headingley
# Die DA sê inwoners van Johannesburg betaal die prys vir infrastruktuur wat wanbestuur word, aangesien die opgradering van Lilian Ngoyi-straat steeds onvoltooid is. Die projek, waarvoor aanvanklik 172-miljoen-rand begroot is, het nou ‘n koste van 215-miljoen-rand bereik, wat die begroting met 40-miljoen-rand oorskry. Volgens die party is slegs 1,8-kilometer pad gelewer, wat byna 100-miljoen-rand per kilometer kos. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA dring aan die Nasionale Tesourie moet ‘n forensiese oudit van alle kontrakte doen:
# Die Departement Minerale Bronne en Energie het aangekondig die prys van 93- en 95-oktaan petrol daal Woensdag met vier-sent per liter. Diesel word ook goedkoper, met tussen 56- en 57-sent per liter, afhangend van die swael-inhoud. Lampolie se groothandelprys daal met 37-sent per liter en die kleinhandelprys met 49-sent. Vloeibare gas sal die grootste prysdaling ondervind, met een-rand-32-sent per kilogram.
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê Suid-Afrika se uitvoermark bly klein weens sy bek-en-klouseer-status. Steenhuisen het bevestig dat groot voerkrale produksie gestaak het, wat die voorsiening aan supermarkte, restaurante en selfs die leersektor ontwrig het. Steenhuisen het gesê die onvermoë om te slag beïnvloed ook voedselsekerheid, veral vir armer verbruikers wat staatmaak op bekostigbare produkte soos koppe en ingewande. Hy het aan Newzroom Afrika bevestig dat bedryfsliggame die situasie monitor:
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid sê stygende wêreldwye skuld en inflasie toon die behoefte aan sterk ekonomiese beleid. Sy nuwe verslag dui aan inflasie in Suid-Afrika het sedert die pandemie afgeneem en fiskale en monetêre beleid beweeg in die rigting van bestendigheid. Die Nasionale Tesourie en die Suid-Afrikaanse Reserwebank hersien die inflasieteiken, wat nou tussen drie- en ses-persent is, met die Reserwebank wat 4,5-persent teiken. Die kamer se uitvoerende hoof, Alan Mukoki, sê ‘n hersiening sal help om groei te beskerm en die ekonomie te versterk.
# Krieket: Die eerste van drie eendagwedstryde tussen Suid-Afrika en Engeland word môre op Headingley in Leeds beslis, kort na die einde van die Proteas se witbalreekse in Australië. Suid-Afrika het die eendagreeks 2-1 gewen. Die eendagwedstryde teen die Engelse word gevolg word deur drie T20s, met die ervare kolwer David Miller wat terugkeer nadat hy verkies het om in die Britse The Hundred te speel in plaas van om na Australië te reis. Die tweede eendagwedstryd vind Donderdag plaas en die laaste een Sondag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-188-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-475-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-18-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….