Nuus 16:00
BULLETIN 1 September 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ArcelorMittal SA bevestig die sluiting van sy langstaalbedrywighede teen die einde van die maand
# AfriForum sê slegs een uit elke vyf stortingsterreine in Suid-Afrika voldoen aan standaarde
# En rugby: Die Bokvroue is die eerste keer onder die wêreld se top-tien
# Suid-Afrika se staalreus, ArcelorMittal, sal na verwagting teen die einde van die maand die sluiting van sy langstaal-bedryf afhandel. Dit sal drie-duisend-500 werkers raak in Newcastle in KwaZulu-Natal, Vereeniging in Gauteng en die spoorweg- en struktuur-eenheid. Pogings om die onderneming te red, insluitend regeringsondersteuning, het misluk. Die uitvoerende hoof, Kobus Verster, skryf dit toe aan voortdurende verliese, hoë elektrisiteits- en spoorwegkoste en goedkoop invoere. Die maatskappy het die eerste helfte van vanjaar meer as ‘n miljard-rand verloor en beplan om nie-kernbates te verkoop om op sy hoofstaalbedryf te fokus.
# AfriForum sê slegs een uit elke vyf stortingsterreine in Suid-Afrika voldoen aan basiese veiligheid- en omgewingstandaarde. Die organisasie se jongste oudit toon 131 uit 169 stortingsterreine wat nagegaan is, het nie daarin geslaag om gemeenskappe en die omgewing te beskerm nie. Gauteng en die Wes-Kaap het die beste gevaar, terwyl die Noord-Kaap die minste voldoening getoon het met net 13-persent. Marais de Vaal van AfriForum sê algemene probleme sluit in brande, onveilige herwinning en swak afvalbestuur:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die lewenslange vonnis vir die 25-jarige Mosambiekse burger, Phethe Simiao, vir die verkragting en moord op die sesjarige Amantle Samane in Johannesburg verlede jaar. Haar liggaam is in sy plakkershut in Orlando-Oos onttdek. Die NVG se woordvoerder, Phindi Mjonondwane, sê Simiao het slegs selfbejammering getoon en geen berou nie. Sy het aanklaers geprys oor hul veerkragtigheid met sake oor geweldsmisdade, veral misdade wat kwesbare groepe teiken, en vra volgehoue krag in die strewe na geregtigheid:
# Die Media 20-beraad in Johannesburg sal na verwagting die M20-verklaring finaliseer wat G20-leiers aanspoor om op te tree teen die wêreldwye inligtings-integriteitskrisis. Die konsep vra die dringende beskerming van media-vryheid, versterking van joernalistieke etiek en die bekamping van waninligting en diepvervalsings. Hy waarsku ‘n gebrek aan inligtings-integriteit bedreig demokrasie, vertroue en die digitale ekonomie. Die verklaring sal aan die G20 voorgelê word vir bekragtiging. Die beraad is ‘n onafhanklike, gesamentlike program van Media Monitoring Africa en die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum.
# Rugby: Die Springbok-vroue se sterk vertoning op die Wêreldbekertoernooi in Engeland het gesorg dat hulle die eerste keer onder die top-tien op die wêreldranglys is. Suid-Afrika het sy tweede oorwinning van die toernooi behaal toe hulle Italië gister in York 29-24 uitoorlê het om die kwarteindronde die eerste keer te haal. Die Bokke is nou boaan Groep D met tien punte na twee bonuspunt-oorwinnings. Hulle speel volgende teen Frankryk, wat tweede geplaas is en ook reeds tot die uitklopfase deurgedring het, terwyl Italië en Brasilië uitgeskakel is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 108-duisend-671-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-470-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….