Nuus 14:00
BULLETIN 1 September 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Skerp daling in nuwe bestellings dui op ‘n moeilike maand vir die vervaardigingsbedryf
# Die dodetal in die aardbewing in Afganistan styg tot meer as 800
# En motorsport: Hamilton word met vyf plekke beboet vir die Italiaanse Grand Prix
# Suid-Afrika se vervaardigingsbedryf het in Augustus weer teruggesak, met die Absa-aankoopbestuurdersaanwyser wat tot 49,5 punte gedaal het. Nuwe verkoopsbestellings het skerp gedaal met 8,5 punte ná ‘n tydelike herstel in Julie en sake-bedrywighede het swak gebly teen 45,8 punte vir die tiende agtereenvolgende maand. Werksgeleenthede het effens verbeter, maar is steeds onder groeivlakke, wat voortdurende uitdagings in binnelandse en wêreldwye aanvraag weerspieël. Insetkoste het wel effens afgeneem, aangehelp deur ‘n sterker rand en bestendige oliepryse. Algehele vervaardiging is egter steeds onder druk.
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë, Solly Malatsi, sê inligtingsintegriteit is die onsigbare infrastruktuur van demokrasie en noodsaaklik vir maatskaplike samehorigheid. Hy het tydens die Media 20-beraad in Johannesburg gewaarsku waninligting, diepvervalsings en manipulasie wat deur kunsmatige intelligensie aangevuur word, bedreig verkiesings en bestendigheid. Malatsi het beklemtoon dat vrye, onafhanklike joernalistiek noodsaaklik is vir demokrasie en ekonomiese vertroue. Hy spoor die samelewing aan om mediavryheid te verdedig en waarsku swakker media is wêreldwyd ‘n krisis:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Reuse-reddingsoperasie is in Afganistan aan die gang nadat ‘n kragtige aardbewing en verskeie naskokke huise platgevee en meer as 800 lewens geëis het in ‘n afgeleë, bergagtige streek. Die aardbewing het net voor middernag plaasgevind en geboue vanaf Kaboel tot by die buurland, Pakistan, se hoofstad, Islamabad, geskud. Die meerderheid Afgane woon in lae, modderbaksteenhuise wat maklik intuimel.
# Motorsport: Die sewemalige Formule Een-wêreldkampioen, Lewis Hamilton, is met vyf wegspringplekke beboet vir dié naweek se Italiaanse Grand Prix, sy Ferrari-span se tuis-wedren. Hy het nie onder dubbele geel vlae stadiger gery voor gister se Nederlandse Grand Prix nie. Hamilton het later teen ‘n muur langs die baan gebots en sy spanmaat, Charles Leclerc, se wedren is ook kortgeknip nadat hy teen Mercedes se nuweling, Kimi Antonelli, gebots het. Hamilton se beste moontlike wegspringplek in sy eerste wedren vir Ferrari op Monza kan die sesde plek wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-57-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-318-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-469-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-94-sent per vat.
# En ten slotte: Transplant Education for Living Legacies, TELL, plaas die kollig op kinders met chroniese niersiekte en die dringende behoefte aan orgaanskenking. Suid-Afrika herdenk dié week Nierbewustheidsweek. Volgens die organisasie het die land een van die wêreld se laagste skenkersyfers. Die besturende direkteur, Stella de Kock, sê Bewustheidsweek moedig vroeë opsporing, gesinsbesprekings oor skenking en oorweging van lewende skenking aan. Sy sê meer as agtduisend Suid-Afrikaners wag op lewensreddende oorplantings, insluitend 40 kinders:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….