Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 1 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-vroue het die eerste keer ooit die Wêreldbekertoernooi se kwarteindronde gehaal toe hulle ‘n bonuspunt-oorwinning van 29-24 oor Italië behaal het in York, Engeland. Aseza Hele, Nadine Roos, Ayanda Malinga, Sizophila Solontsi en Sinazo Mcatshulwa het Suid-Afrika se vyf drieë gedruk en hulle ʼn tweede oorwinning in Groep D besorg. Hulle het Brasilië in hul openingswedstryd 66-6 verpletter. Die Bok-vroue se afrigter, Swys de Bruin, sê hierdie oorwinning is spesiaal:
# En nou gholf: Thriston Lawrence van Suid-Afrika het die Europese Meesterstoernooi in Switserland die tweede keer in vier jaar gewen. Die 28-jarige het ‘n laaste ronde van 66 aangeteken vir ‘n oorwinning met twee houe en ‘n vyfde DP World-toertitel. Die verdedigende kampioen, Matt Wallace van Engeland, die Deen Rasmus Hojgaard en die Fin Sami Vilamaki was saam tweede, en Matt Fitzpatrick van Engeland vyfde. ‘n Emosionele Lawrence sê hy is trots op hoe hard hy geveg het:
# Oor na sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, sê die groep is vasbeslote om vir 2026 se Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer wanneer hulle Lesotho en Nigerië pak in eersteronde-kwalifiseerders. Hy sê daar is uitdagings soos spankeuses, beserings en klubgeskille, maar het vertroue uitgespreek in jonger spelers wat na vore tree. Broos waarsku hulle kan Lesotho nie onderskat terwyl hulle vir Nigerië voorberei nie:
# Motorsport: Oscar Piastri van McLaren het ʼn dramatiese Nederlandse Formule Een Grand Prix gewen en sy sewende oorwinning van die seisoen behaal. Sy spanmaat, Lando Norris, was in die tweede plek toe hy agt rondes voor die einde moes onttrek weens ʼn olielek. Max Verstappen van Red Bull was tweede en die Racing Bulls-renjaer, Isack Hadjar, derde in sy eerste F1-podiumplek. Piastri, wat met 34 punte voorloop in die bestuurderskampioenskap, sê in die stryd vir ʼn kampioenskap-sege raak dit baie belangrik waar jy wegspring:
# En en slotte, tennis: Die wêreld-nommer-twee, Carlos Alcaraz van Spanje, is deur na die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope nadat hy Arthur Rinderknech van Frankryk geklop het. Die 38-jarige Serwiër, Novak Djokovic, het die Duitse kwalifiseerder, Jan-Lennard Struff, maklik verslaan om die oudste man in die geskiedenis te word wat die kwarteindronde van al vier Grand Slam-toernooie se enkelspel in een seisoen kon haal. In die vroueafdeling is wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, deur na haar vyfde agtereenvolgende kwarteindronde nadat sy met Cristina Bucsa van Spanje afgereken het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….