Nuus 08:00
BULLETIN 1 September 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie sal begin sodra alle stelsels ten volle operasioneel is
# Daar is kommer oor Suid-Afrika wat van die SWIFT-betalingstelsel afgesny kan word
# En motorsport: Piastri wen die Nederlandse Grand Prix en vergroot sy voorsprong
# Die Madlanga-kommissie sê ‘n nuwe begindatum vir sy werksaamhede sal bevestig word sodra alle ICT-stelsels ten volle operasioneel is. Die kommissie wat misdadigheid, politieke inmengery en korrupsie in die strafregstelsel moet ondersoek, sou vandag met sittings begin. Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling kon egter nie die nodige infrastruktuur betyds reël nie. Die kommissie se woordvoerder, Jeremy Michaels, het aan die SABC gesê diensverskaffers toets tans alle ICT-apparatuur:
# Ekonome waarsku oor die risiko dat Suid-Afrika van die wêreldwye internetbetaalstelsel, SWIFT, afgesny word. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het na wat berig word verlede week sy kommer uitgespreek oor die VSA-sanksies wat kan lei tot die afsnyding deur die VSA. SWIFT stel banke wêreldwyd in staat om betalings te versnel en te verseker dat dit veilig en seker is. Die hoofekonoom van Aluma Capital, Frederick Mitchell, sê die gevolge van die verlies aan toegang tot SWIFT se gevolge kan die nasionale bestendigheid en toekomstige groeivooruitsigte ondermyn.
# KZN se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het opdrag gegee dat ʼn polisiekonstabel wat in die openbaar met MK-party-regalia opgemerk is, geskors word. Die beampte is verbonde aan die Ntambanana-polisiekantoor in die King Cetshwayo-distrik. Polisiewoordvoerder Robert Netshiunda sê die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens verbied ʼn polisiebeampte om in die openbaar aan ʼn politieke party ondersteuning te toon of hom of haar daarmee te vereenselwig:
# ʼn Verdagte is gearresteer in verband met die moord op die voormalige Oekraïnse parlementêre speaker, Andriy Parubiy. Hy is Saterdag in die stad Lviv doodgeskiet deur iemand wat hom as ʼn koerier voorgedoen het. Die 54-jarige Parubiy het bekendheid verwerf tydens Oekraïne se massabetogings wat sterker bande met die Europese Unie voorgestaan het, en in 2014 die gewese pro-Russiese president Viktor Yanukovych tot ʼn val gebring het. Oekraïne se president Volodymyr Zelensky sê dringende ondersoeke is aan die gang om die omstandighede rondom die moord te bepaal.
# Motorsport: Oscar Piastri van McLaren het ʼn dramatiese Nederlandse Grand Prix gewen en sy sewende oorwinning van die seisoen behaal. Sy spanmaat, Lando Norris, wat tweede kon klaarmaak, moes agt rondes voor die einde onttrek weens ʼn olielek. Max Verstappen van Red Bull was tweede en die Racing Bulls-renjaer, Isack Hadjar, was derde in sy eerste F1-podiumplek. Piastri, wat met 34 punte voorloop in die bestuurderskampioenskap, sê in die stryd vir ʼn kampioenskap-sege, raak dit belangriker om te kwalifiseer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64 sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-85 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-668 dollar. Die prys van goud is drie-duisend-473-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-4-sent per vat.