Nuus 13:00
BULLETIN 31 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is woedend oor generaal Masemola se besluit oor die dossiere
# Die EFF beskuldig Cachalia van politieke inmenging
# En rugby: De Klerk sluit aan by die Springbokke in Auckland
# President Cyril Ramaphosa is omgekrap oor die besluit van die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola om 121 politieke moorddossiere aan die KwaZulu-Natal-taakspan terug te besorg. Volgens City Press glo hy die optrede kan die Madlanga-kommissie van ondersoek vooruitloop. Presidensiële woordvoerder Vincent Magwenya het aan die webblad gesê die president beskou dit as onverstandig van die polisiebestuur om te begin peuter met kwessies waarvoor die Mkhwanazi-kommissie verantwoordelik is. Ramaphosa het na bewering die waarnemende polisieminister, Firoz Cachalia, gevra vir ‘n verduideliking.
Die EFF het intussen Kachalia, beskuldig dat hy polities inmeng in die ondersoeke na politieke moorde in KwaZulu-Natal. Die geskil gaan ook oor 121 dossiere wat aan die Taakspan vir Politieke Moorde terugbesorg is. Kachalia het Masemola, gekritiseer oor die skuif en sê hy moes gewag het vir die Madlanga-kommissie se uitslag. Die EFF beweer Kachalia se aanstelling was onreëlmatig en voer aan hy is nou ‘n hindernis vir geregtigheid.
# ActionSA vier vyf jaar sedert sy bekendstelling tydens die Covid-19-inperking. Partyleier Herman Mashaba sê dit is ‘n oomblik om te besin oor sy groeiende aansien eerder as om uitgebreide vieringe te hou. In ‘n onderhoud met SABC News beklemtoon Mashaba prestasies soos om as die grootste nuwe party in 2021 se plaaslike verkiesing na vore te tree, die regsgedinge teen Eskom en die ondersteuning van gemeenskappe soos die Lily Mine-gesinne. Met ses setels in die Parlement het hy belowe om voort te gaan met hervormings en die regering aanspreeklik te hou:
# Motorsport: Oscar Piastri het gister die voorste wegspringplek vir die Nederlandse Grand Prix ingepalm en is saam met sy spanmaat Lando Norris in die eerste ry, om McLaren se oorheersing van Formule Een vol te hou. Dit was die Australiese jaer vyfde top-wegspring vir die seisoen. Piastri hoop om vanmiddag sy voorsprong van nege punte oor Norris in die wêreldkampioenskap verder te vergroot. Norris was in die vorige drie oefensessies beste as die Australiër, maar Piastri het op die regte tyd teruggeveg vir ‘n kans om dalk die wedren te wen. Tuisgunsteling Max Verstappen het in die derde plek gekwalifiseer.
# Rugby: Die ervare skrumskakel Faf de Klerk sal by die Springbokke in Nieu-Seeland aansluit vir die tweede been van hul Rugbykampioenskap-veldtog teen die All Blacks. Dit is vir die wedstryde wat hulle in Auckland en Wellington sal speel. De Klerk se insluiting vergroot die groep wat tans voorberei vir die eerste toets in Auckland tot 36. Die Springbokke sal op Saterdag 6 September op Eden Park in Auckland teen hul aartsvyande, die All Blacks, te staan kom, voordat hulle op Saterdag 13 September na Wellington sal reis vir hul tweede kragmeting van die toer.
#En ten slotte: Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap werk saam met die Amapiano-duo Scorpion Kings om 150 kreatiewe jongmense deur die Nasionale Jeugdiens-program op te lei. Die inisiatief, wat tydens gisteraand se ‘Live with Friends‘-geleentheid by Loftus Versfeld van stapel gestuur is, sal mentorskap en praktiese ervaring in geleentheidsproduksie, koördinering en voorportaalbedryf bied. Die adjunkvoorsitter van die agentskap, Bonga Makhanya, het die vennootskap geprys wat vaardighede, ekonomiese geleenthede en sosiale samehorigheid in Suid-Afrika se kreatiewe sektor bevorder:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….