Nuus 09:00
BULLETIN 31 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie toets nuwe inligtings- en kommunikasietegnologie
# Die MK-party loof Masemola vir die terugbesorging van 121 dossiere aan die Politieke Moorde-taakspan
# En vyf is dood in ‘n ongeluk op die N1 naby Ysterberg in Limpopo
# Die Madlanga-kommissie finaliseer toetse op inligting- en kommunikasietegnologiestelsels voor die verhore oor die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi se bewerings van politieke inmenging in misdaadvoorkoming. Woordvoerder Jeremy Michaels het aan SABC News gesê konsultasies met getuies is aan die gang terwyl die Departement van Justisie en diensverskaffers verseker dat alle stelsels funksioneel is. Hy het bevestig dat ‘n nuwe datum binnekort aangekondig sal word:
# Die MK-party het die Nasionale Polisiekommissaris Fannie Masemola geprys vir die terugbesorging van 121 dossiere aan die KwaZulu-Natal taakspan vir Politieke Moorde. Die MK-party sê die stap is van kritieke belang te midde van Suid-Afrika se toenemende misdaad en korrupsie, en sê dis ‘n stap wat die agterstallige arrestasies en vervolgings sal aanspreek. Terwyl die party die terugstuur verwelkom, kritiseer hy president Cyril Ramaphosa omdat hy nie beslissend opgetree het teen kriminele netwerke, geslagsgeweld en wetteloosheid nie. MK dring aan dat die leierskap dringend geregtigheid en openbare veiligheid herstel.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, het belanghebbendes versoek om saam te werk om bestendigheid in die taxibedryf te herstel. Dit volg na voorvalle in Philippi-Oos, Khayelitsha en Macassar, waarin vyf mense dood en nege beseer is. Mededingende verenigings CATA en CODETA is deur die Provinsiale Taxiregistrateur gedaag om die oortredings van die gedragskode te verduidelik. Sileku het aan Newzroom Afrika die noodsaaklikheid beklemtoon om aan die Hooggeregshof-interdik te voldoen:
# Vyf mense is gister dood en nog twee beseer in ‘n botsing reg van voor by Ysterberg in Polokwane, Limpopo. Die Vervoerdepartement het bevestig die slagoffers is verkool toe die twee motorvoertuie na die ongeluk aan die brand geslaan het. Die woordvoerder Tidimalo Chuene sê voorlopige verslae dui daarop dat die een voertuig probeer verbysteek het. Die LUR Susani Violet Mathye het haar meegevoel met die families betuig en padgebruikers versoek om geduldig te wees. Sy het haar kommer uitgespreek oor gereelde ongelukke langs die gevaarlike roete.
# Die voormalige speaker van die Oekraïnse Parlement, Andriy Parubiy, is doodgeskiet in die westelike stad Lviv. Volgens Oekraïnse aanklaers het ‘n ongeïdentifiseerde gewapende man verskeie skote op die politikus afgevuur en hy is op die toneel dood. Die Oekraïnse president Volodymyr Zelensky het gister se aanval as ‘n “verskriklike moord” beskryf en sy meegevoel teenoor Parubiy se familie betuig. Die 54-jarige Parubiy het bekendheid verwerf tydens Oekraïne se Euromaidan-massabetoging, wat die voormalige pro-Russiese president, Viktor Janukovitsj in 2014 omvergewerp het. Intussen sê die Lviv-hoofaanklaer, Mykola Meret, alle motiewe word ondersoek, insluitend Russiese betrokkenheid.
# En gholf: Thriston Lawrence het gister briljante spel gelewer op die eerste nege putjies en die voortou geneem in die Omega Europese Meesters in Switserland. Die derde ronde het laat op die derde dag begin, en Lawrence kon slegs 12 putjies voltooi. Die Suid-Afrikaner, wat die toernooi in 2022 gewen het, het die derde ronde met ‘n lang voëltjie op die moeilike eerste putjie begin voordat hy van ‘n valhou op die tweede teruggekeer het om met vyf agtereenvolgende wenhoue vanaf die vyfde die voortou te neem. Die oorblywende ses putjies van die derde ronde word vanoggend voltooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….