Nuus 08:00
BULLETIN 31 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SALGA is bekommerd oor Eskom se tariefskikking van 54-miljard-rand
# Die Poskantoor skort uitgaande pakketpos na die VSA op
# En rugby: Die jongste Curriebeker-nuus
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging het kommer uitgespreek oor die NERSA-Eskom-skikking, wat elektrisiteitstariewe met 8,76-persent in 2026/27 en 8,83-persent in 2027/28 verhoog. Dit sal verbruikers ‘n bykomende 54-miljard rand sal kos. SALGA waarsku dat hierdie verhogings huishoudelike armoede vererger, munisipale finansies belemmer en dienslewering in gevaar stel. In ‘n verklaring het Salga-president Bheke Stofile ‘n beroep gedoen op dringende hervormings in die elektrisiteitsektor, regeringsondersteuning vir kwesbare huishoudings, en ‘n volhoubare, deursigtige kosteherwinningsraamwerk.
Suid-Afrika het intussen vir 105 agtereenvolgende dae nie beurtkrag gehad nie, met die Energie Beskikbaarheidsfaktor wat tussen 64-persent en 75-persent wissel. Eskom-woordvoerder Daphne Mokoena sê hierdie mylpaal bou voort op 352 beurtkragvrye dae in 2025. Die nutsmaatskappy skryf dit toe aan volgehoue verbeterings in sy opwekkingsnetwerk, laer onbeplande onderbrekings en bestendige netwerkprestasie. Sy beklemtoon Eskom het aan meer as 97-persent van die winteraanvraag voldoen en beplan om volgende week vierduisend-800-megawatt weer in diens te stel:
# Die Suid-Afrikaanse Poskantoor het die uitgaande pakketdiens na die Verenigde State met onmiddellike ingang opgeskort. Dit volg na nuwe Amerikaanse regulasies wat die belastingvrye toelaag van 14-duisend-rand staak. Pakkies by die Germiston internasionale possentrum wat nie hieraan voldoen nie, sal aan die senders terugbesorg word. Die opskorting sal voortduur totdat ‘n nuwe bestuurstelsel in plek is. Dokumente, briewe en vrygestelde kategorieë, insluitend militêre pos, sal egter steeds verwerk word. Suid-Afrika is deel van 25 posdienste wêreldwyd wat die diens opskort.
# ‘n Federale regter het ‘n poging van die Trump-administrasie gestuit om die deportasie van migrante wat in die VSA aangehou word, te bespoedig, en dit as ‘n skending van die regproses bestempel. Regter Jia Cobb het gesê, anders as migrante wat by of naby die grens aangehou word, teiken die administrasie nou mense wat ‘n geruime tyd in die land woon. Cobb sê hulle het ‘n sterk vryheidsbelang om in Amerika te bly en behoorlike prosedure moet gevolg word volgens die vyfde Grondwetwysiging. Die regering het intussen die hof versoek om die beleid in werking te laat tree, en aangevoer dis ‘n wettige uitoefening van uitvoerende gesag.
# En laastens rugby: Die jongste Curriebeker-nuus
Die Leeus het die Bulle se hoop in die Curriebeker aan skerwe laat spat en is in die top vier van die kompetisie ná ‘n vernederende oorwinning van 44-5. Die Leeus was teen rustyd gemaklik voor met 20-5, met die Bulle se enigste punte van die wedstryd ‘n drie deur Jaco van der Walt. Die Leeus het in die tweede helfte nog 24 punte by hul eindtelling gevoeg met drieë deur kaptein PJ Botha, Richard Kriel, Sam Francis en Hassiem Pead en is nou derde op die punteleer.
En ‘n strafskop van 42-meter ses-minute nadat speeltyd verstreke was het intussen die Haaie in staat gestel om die Boland Kavaliers gisteraand met 33-31 te klop in ‘n opwindende Curriebeker-wedstryd in Pietermaritzburg. Die Haaie het deurgaans voorgeloop, maar die Bolanders het teruggeveg en die voortou geneem met net meer as drie minute oor. Toe volg Siya Masuku ae strafskop en die Haaie wen. Boland het twee bonuspunte behaal, wat hulle ná die naweek in die tweede plek op die puntelys laat, twee agter die voorlopers Griekwas, met die Haaie tweede laaste op die puntelys.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….