Nuus 11:00
BULLETIN 30 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Thabo Mbeki waarsku teen konflik indien die SAKP die ANC in die 2026-verkiesing teenstaan
# Die VSA verhoed die Palestynse leier om VN-vergadering in New York by te woon
# En tennisnuus van die Amerikaanse Ope
# Oudpresident Thabo Mbeki het gewaarsku dat ‘n regstreekse verkiesingsuitdaging deur die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party teen die ANC in die 2026 munisipale verkiesing, konfrontasie tussen die twee langdurige bondgenote kan veroorsaak. Dit volg nadat die SAKP-woordvoerder Mbulelo Mandlana bevestig het dat die party die ANC steeds as ‘n vennoot beskou, ten spyte van planne om onafhanklik mee te ding. Mbeki het die SAKP aangespoor om eerder as sosialiste mee te ding, en gewaarsku teen die ondermyning van die drieparty-alliansie.
# Die adjunkminister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het ‘n beroep gedoen op die samestelling van energieprogramme vir ‘n klimaatsveerkragtige ekonomie met bystand deur die Nasionale Tesourie. Tydens die bekendstelling van die JET Skills Desk, die Nasionale Adviesforum en die Multi-Donor-inisiatief in Johannesburg, het Manamela gesê die inisiatiewe is ‘n mylpaal in die bou van ‘n lae-koolstof-ekonomie. Hy het ‘n beroep gedoen op inklusiewe, vraaggedrewe vaardigheidsontwikkeling vir ‘n billike oorgang:
# Die Palestynse president Mahmoud Abbas kan nie die VN se Algemene Vergadering in New York volgende maand bywoon nie nadat hy en 80 ander Palestynse amptenare se visums herroep is. Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê hulle ondermyn vredespogings met hulle soeke na die erkenning van ‘n Palestynse staat. Die besluit is ongewoon aangesien daar van die VSA verwag word om alle reise toe te laat vir amptenare van alle lande wat die VN-hoofkwartier wil besoek. Die verbod volg terwyl Frankryk internasionale pogings lei om die staat Palestina tydens die sitting te erken, ‘n stap wat Donald Trump se administrasie teenstaan.
# Tennis: Carlos Alcaraz het gister tot die vierde ronde van die Amerikaanse Ope deurgedring nadat die Amerikaanse hoop om die land se 22 jaar lange wag vir ‘n manskampioen te beëindig, ‘n knou gekry het met die sesde gekeurde Ben Shelton wat beseer is. Die Spaanse tweede-gekeurde Alcaraz het die Italiaanse 32ste-gekeurde Luciano Darderi geklop en sal môre teen Frankryk se Arthur Rinderknech speel. Die Spanjaard het ‘n mediese onderbreking nodig gehad vir behandeling aan sy regterknie, maar het later gesê hy het geen probleme nie.
Maar terwyl Alcaraz sy knieprobleem kon afskud, het ‘n skouerbesering Ben Shelton se hoop om die eerste Amerikaanse man te word om die Amerikaanse Ope te wen sedert Andy Roddick in 2003, in die wiele gery. Shelton met sy krag-afslane, ‘n semi-finalis by Flushing Meadows in 2023, het die Louis Armstrong-stadion se baan in trane verlaat nadat hy aan die einde van die vierde stel van sy wedstryd teen die Franse veteraan Adrian Mannarino moes onttrek. In die ander mans-uitslae is die Tsjeggiese 20ste-gekeurde Jiri Lehecka deur na die volgende ronde na ‘n oorwinning oor die Belg Raphael Collignon.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het ‘n Spesiale Amptelike Begrafnis Kategorie 2 vir wyle Ambassadeur Mninwa Johannes Mahlangu afgekondig, wat volgende Saterdag in Middelburg, Mpumalanga, gehou sal word. Die 72-jarige voormalige voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies en diplomaat is op 24 Augustus oorlede na ‘n kort siekbed. Presidensie-woordvoerder Vincent Magwenya sê Mahlangu, het deurslag gegee met die opstel van Suid-Afrika se Grondwet en in sleutel diplomatieke rolle gedien. Hy sal seremoniële polisie-eerbewyse by sy begrafnis ontvang:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….