Nuus 09:00
BULLETIN 30 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# NERSA registreer 111 nuwe opwekkingseenhede
# Zelensky sê gesprekke oor sekuriteitswaarborge moet op leiersvlak plaasvind
# En rugby: Die Griekwas troef die Cheetahs in die Curriebeker-kompetisie
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het 111 nuwe opwekkingseenhede in die eerste kwartaal van 2025/26 geregistreer om die energiesektor ‘n hupstoot te gee. Dit beloop altesaam een-duisend-916-megawatt met ‘n geraamde belegging van 51,91-miljard-rand. NERSA-woordvoerder Charles Hlebela sê die energiereguleerder het ‘n gemiddelde ommeswaai van elf werksdae behaal, wat ‘n verbetering is op verlede jaar se 15. Sonkragprojekte het nuwe geleenthede oorheers, met Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal wat die meeste projekte het:
# Die DA in die Wes-Kaap sê die provinsie verskerp sy stryd teen geslagsgeweld. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het tydens Vrouemaand 51 programme teen geslagsgeweld van stapel gestuur en twee nuwe ambassadeursgroepe gestig, wat die totaal op 13 te staan bring. Die provinsie befonds ook 19 organisasies en 25 skuilings wat psigososiale, regs- en maatskaplike dienste aanbied. Wendy Kaizer-Philander van die DA het slagoffers aangespoor om hulp te soek:
# Die Gautengse LUR vir Omgewing, Ewan Botha het ‘n herwinningsfasiliteit in Vereeniging gesluit omdat hy sonder ‘n afvalbestuurslisensie bedryf word. Botha sê dit is ‘n oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsafvalbestuur. Die fasiliteit het ook wette oor beroepsgesondheid en -veiligheid, arbeid en immigrasie oortree, met tien ongedokumenteerde werkers wat in hegtenis geneem is. Hy het beklemtoon die inisiatief verseker dat slegs gelisensieerde fasiliteite bedryf word wat aan die wet voldoen, werksgeleenthede beskerm en volhoubare herwinningspraktyke bevorder.
# President Volodymir Zelensky sê beraadslagings deur Kiëf se vennote oor veiligheidswaarborge vir Oekraïne moet “dringend” tot leiersvlak verhef word, en die Amerikaanse president Donald Trump moet deelneem. Oekraïne soek standvastige verbintenisse deur Kiëf se bondgenote as deel van enige vredesooreenkoms om die oorlog met Rusland te beëindig. Zelensky het aan verslaggewers gesê hy verwag om volgende week samesprekings met Europese leiers voort te sit oor wat hy as NAVO-verbintenisse beskryf het. Zelensky het bygevoeg dat hy ook graag wil sien dat bondgenote enige veiligheidswaarborge deur hul onderskeie parlemente bekragtig.
# En ten slotte rugbynuus:
# Die Griekwas het gisteraand in Bloemfontein ‘n uitstekende vertoning in die eerste helfte gelewer wat hulle tot ‘n oorweldigende 40-10 Curriebeker-oorwinning oor die Cheetahs gelei het. Beide spanne het met oorgawe aangeval, maar die Griekwas was die beste met vyf drieë in die eerste helfte om met 33-5 voor te loop. Die tweede helfte was baie strawwer. Die bonuspunt-oorwinning skuif die Griekwas van derde na bo-aan die punteleer. Hulle kan slegs onttroon word as die Boland Kavaliers ‘n bonuspunt-oorwinning oor die Haaie behaal in hul botsing in Pietermaritzburg vandag.
Die Leeus het dit intussen duidelik gemaak hulle gaan alles uithaal om die Curriebeker te wen deur verskeie van hulle Verenigde Rugbykampioenskap-spelers te kies. Die unie se hoofafrigter, Ivan Rooyen, het ook oorgeneem by Mziwakhe Nkosi. Onder die VRK-spelers wat gekies is vir vanmiddag se wedstryd teen die Bulle in Johannesburg is die Springbokke Quan Horn en Ruan Venter, Richard Kriel, en die nuwelinge Chris Smith en Eduan Keyter. Die speler van die toernooi in die onlangse Junior Wêreldkampioenskap, Haashim Pead, kan sy buiging van die bank af maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….