Nuus 08:00
BULLETIN 29 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Batebeslagleggingseenheid word internasionaal bygestaan om die gesteelde geld van die Guptas terug te kry
# Die voormalige Bok-afrigter Peter de Villiers is vrygespreek van seksuele aanranding
# En die skoolskieter in Minneapolis was behep met die idee om kinders dood te maak
# Die Nasionale Vervolgingsgesag se Batebeslagleggingseenheid sê hy word bygestaan deur internasionale finansiële instellings om geld wat die Guptas van die staat gesteel het, terug te kry. Volgens die Staatskapingskommissie het die staat sowat 72,3-miljard-rand aan die Guptas se misdaad-ryk betaal. Die nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolgings, Ouma Rabaji-Rasethaba, het tydens ‘n paneelbespreking wat die Daily Maverick aangebied het, gesê geregtigheid sal geskied teen diegene wat geloofbaar beskuldig word dat hulle Suid-Afrikaanse belastingbetalers se geld wanbestee het:
# Die vakbondfederasie, Saftu, het kommer uitgespreek oor die energiereguleerder, Nersa, se skikkingsooreenkoms van 54-miljard-rand met Eskom. Dit volg nadat Nersa ʼn fout begaan het in die berekening van die kragvoorsiener se inkomste vir die huidige en volgende twee boekjare. Ná die prysbepaling se hersiening verhoog die tarief in elk van die volgende twee jare met 8,8-persent, wat drie keer hoër is as die verwagte verbruikers-inflasiekoers. Saftu-woordvoerder, Asive Dyani, sê dis nog ʼn terugslag vir die werkersklas en arm huishoudings:
# Die Malmesbury Streekshof in die Wes-Kaap het die gewese Springbok-afrigter Peter de Villiers vrygespreek op aanklagte van seksuele aanranding en crimen injuria. ʼn Vrou het beweer De Villiers het haar aangerand nadat hy haar verlede Januarie ná ʼn geleentheid by haar huis gaan aflaai het. Die GOOD-party het daarna De Villiers se lidmaatskap beëindig. Sy regsverteenwoordiger, Hendrik le Roux, het aan News24 gesê De Villiers fokus nou daarop om sy lewe te herbou.
# Die waarnemende Amerikaanse prokureur-generaal van Minnesota, Joseph Thompson, sê die aanvaller wat Woensdag tydens die Mis by Annunciation Catholic School in Minneapolis begin skiet het, was behep met die idee om kinders dood te maak. Robin Westman het deur die vensters van die Annunciation Church op die kinders losgebrand terwyl hulle gebid het. Twee kinders, agt en tien jaar oud, is dood. Agttien ander mense is gewond. Westman het homself op die toneel om die lewe gebring. Thompson sê Westman het ‘n brief nagelaat, maar dit lyk nie of daar ‘n spesifieke motief vir sy optrede is nie:
# Atletiek: Die Suid-Afrikaner Akani Simbine het binne 9,98-sekondes oor die wenstreep genael in die mans se 100-meter-item by die Wanda Diamantliga-byeenkoms in Zürich, Switserland. Sy landgenoot, Bayanda Walaza, het sy dyspier beseer. Christian Coleman van Amerika het die resies gewen en Ackeem Blake van Jamaika was derde. Nog ʼn Suid-Afrikaner, Jo-Ane du Plessis, was derde in die vroue se spiesgooi-item wat die Griek, Elina Tzengko, gewen het met Adriana Vilagos van Serwië in die tweede plek. Die wêreld se binnenshuise kampioen, Prudence Sekgodiso, het sesde gekom in die vroue se 800-meter-item.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-673-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-411-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-40-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….