Nuus 13:00
BULLETIN 28 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Referendum-party sê Malema se dreigemente van geweld teen minderhede is te lank toegelaat
# Die Gelykheidshof beslis in Daily Maverick se guns in Mashawana se swygbevel-poging
# En die polisie slaan steeds toe op onwettige mynnetwerke
# Die Referendum-party verwelkom die Gelykheidshof se uitspraak wat die EFF-leier, Julius Malema, skuldig bevind het aan haatspraak en vra dat hy tot die volle omvang van die reg gestraf word. Die party se woordvoerder, Christian King, sê Malema is te lank toegelaat om dreigemente van geweld en rassistiese tirades te voer teen minderhede, veral wit en Indiese gemeenskappe, met bykans geen straf of gevolge nie:
Die Vryheidsfront Plus het ook die uitspraak verwelkom. Dit volg op ʼn saamtrek in Oktober 2022 toe Malema partylede berispe het omdat hulle nie teen ʼn wit man opgetree het nie. Die man was deel van ʼn groep wat hulle buite die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad aangeval het. Corné Mulder van die VF Plus sê dis hoog tyd dat Malema aanspreeklik gehou word vir sy haatlike en rassistiese opmerkings:
# Daily Maverick het die Hooggeregshof in Johannesburg se besluit verwelkom om die sakeman Collen Mashawana se dringende aansoek teen die publikasie met koste van die hand te wys. Hy wou hê die hof moet Daily Maverick en die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh verbied om verder verslag te doen oor bewerings van korrupsie teen hom, sy stigting en die geskorste hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust, Tebogo Malaka. Waarnemende regter Alex Pullinger het die aansoek van die rol geskrap. Myburgh sê dis ʼn groot oorwinning vir ondersoekende joernalistiek en mediavryheid.
# Die polisie sê hy bly vasberade in sy toewyding om onwettige mynnetwerke uit te roei en die veiligheid en welstand van gemeenskappe te verseker. Verlede week is 215 verdagtes landwyd vasgetrek tydens Operasie Vala Umgodi. Die polisiewoordvoerder, Vincent Mukhathi, sê die verdagtes se oortredings sluit in die onwettige besit van plofstof, gouddraende materiaal en ongelisensieerde vuurwapens:
# Sokker: Die eindstryd van die MTN8 tussen Orlando Pirates en Stellenbosch sal op 13 September op die Mbombela-stadion in Mpumalanga gespeel word. Die Premierliga het bevestig dat die driemalige verdedigende kampioen, Pirates, as die tuisspan geloot is. Die wedstryd sal ‘n herhaling wees van verlede jaar se eindstryd toe hulle Stellenbosch met 3-1 by die Moses Mabhida-stadion in Durban geklop het. Pirates het Mamelodi Sundowns in die halfeindstryd geklop, terwyl Stellenbosch vir Sekhukhune United verslaan het. Inligting oor kaartjieverkope sal later bekend gemaak word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-59-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-980-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-399-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….