Nuus 09:00
BULLETIN 28 Augustus 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkminister Andries Nel waarsku teen ‘n Russiese werksgeleentheid-bedrogspul
# Noord-Korea se Kim Jong Un besoek China vir Victory Day
# En rugby: Die All Blacks-afrigter stel 16 spelers vry vir provinsiale spel
# Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, vra ‘n verenigde benadering in die stryd teen mensehandel en uitbuiting van jong vroue. Dit volg ná bekende Suid-Afrikaanse smaakmakers se video’s op sosiale media oor omstrede en moontlik onwettige werksgeleenthede in Rusland. Die advertensie teiken jong vroue tussen 18 en 22 jaar. Nel sê mensehandel is ʼn groot probleem wat met eenheid, waaksaamheid en vasberadenheid aangepak moet word:
# Die ANC sê hy verwelkom die verduideliking van die party se Jeugliga oor die nasionale dialoog en sy ondersteuning daarvan. Dit volg nadat die Jeugliga die nasionale konvensie vir die dialoog gekritiseer en gesê het dit kort betrokkenheid van die jeug en dis bloot ‘n teeparty vir vriende. Die regering beskryf die dialoog as gelei deur die mense vir almal in die land. Die ANC sê die rol van die jeug is om sterk en vreesloos in hul betrokkenheid te wees, maar die party lei steeds die Jeugliga op politieke gebied om al die belange van jong mense te bevorder.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê daar is net minder as 13-duisend aktiewe polisielede in die provinsie wat as gevolg van die vinnige bevolkingstoename te min is. Hy sê die voortslepende bendegeweld en die onlangse vlaag minibustaxi-verwante skietvoorvalle vereis sterker polisiëring. Winde sê meer as 25-duisend polisielede moet in die provinsie ontplooi wees:
# Noord-Korea se leier, Kim Jong Un, gaan volgende Woensdag ʼn militêre parade in Beijing, China, bywoon. Dit sal sy eerste besoek sedert 2019 aan China wees. Die sogenaamde “Victory Day“-parade is deel van China se vieringe vir die 80ste herdenking van die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Altesaam 26 buitelandse leiers, onder andere Rusland se president Vladimir Putin en Pakistan se eerste minister, Shehbaz Sharif, sal die geleentheid bywoon.
# Rugby: Die All Blacks se hoofafrigter, Scott Robertson, het 16 spelers na hulle provinsiale spanne teruggestuur voor die twee Rugbykampioenskap-tuistoetse teen die Springbokke. Nie een van hulle het vir Nieu-Seeland gespeel in verlede naweek se nederlaag teen die Pumas nie. Robertson het die blye nuus gekry dat die sleutelspeler Anton Lienert-Brown terugkeer na die veld nadat hy die tweede toets teen Argentinië weens harsingskudding misgeloop het. Suid-Afrika en Nieu-Seeland speel volgende naweek in Auckland en die week daarna in Wellington.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 112-duisend-205-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-391-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….