Nuus 08:00
BULLETIN 28 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nersa en Eskom bereik ‘n skikking oor die sesde meerjarige prysbepaling
# Die VN-Veiligheidsraad sê die hongersnood in Gaza is ‘n mensgemaakte krisis
# En tennis: Lloyd Harris word uitgeskakel by die Amerikaanse Ope
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika sê hy het ‘n ooreenkoms met Eskom bereik oor die sesde meerjarige prysvasstelling-inkomstebesluit vir drie boekjare. Die kragverskaffer het in Julie ʼn geregtelike hersiening ingedien om Nersa se besluit oor sy toelaatbare inkomste-aansoek tersyde te stel en aangevoer sy inkomste-tekort beloop 107-miljard-rand. Nersa-woordvoerder Charles Hlebela sê na ʼn hersiening het hulle foute ontdek wat ʼn onderberaming in sekere dele van Eskom se aansoek veroorsaak het:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente knap studenteverblyf op om uitsettings en vertragings in toelaebetalings te voorkom. Dit het ten doel om bestuur te versterk, dienslewering te verbeter en tydige betalings aan verhuurders te verseker. Meer as 112-duisend studente het vanjaar behuising ontvang, maar byna 38-duisend beddens is nog nie goedgekeur nie. NSFAS se waarnemende uitvoerende hoof, Waseem Carrim, sê die skema sal studente met uitdagings ondersteun en verseker verhuurders dien eise korrek in om ontwrigtings te vermy:
# Elke lid van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad, buiten Amerika, vra ʼn skietstilstand in Gaza en stem saam dat hongersnood in Gaza mensgemaak is. Volgens die jongste ontleding van die klassifisering van voedselsekerheid beleef 514-duisend mense, byna ʼn kwart van die Palestyne in Gaza, hongersnood en beweer dit sal teen die einde van September toeneem tot 641-duisend. Guyana se permanente adjunkverteenwoordiger by die VN, Trishala Persaud, sê die hongersnood moet onmiddellik gestop word:
# Tennis: Die Suid-Afrikaner Lloyd Harris is in die Amerikaanse Ope se tweede ronde uitgeskakel deur verlede jaar se finalis, Taylor Fritz van Amerika. Die wêreld-nommer-twee van Spanje, Carlos Alcaraz, het die Italianer Mattia Bellucci maklik verslaan om die derde ronde te haal. Alcaraz se moontlike teenstander in die halfeindronde, die Serwiër Novak Djokovic, het met die Amerikaanse kwalifiseerder, Zachary Svajda, afgereken. In die vroueafdeling het verlede jaar se naaswenner, Jessica Pegula van Amerika, en die Brit Emma Raducanu ook na die derde ronde deurgedring.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-810-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-390-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-87-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het hulde gebring aan EWN se mede-politieke redakteur, Tshidi Madia, en beskryf haar as ʼn besondere vrou. Sy is gister na ʼn kort siekbed in die hospitaal oorlede. Ramaphosa sê Madia se liefde vir die land was die agtergrond vir haar moeilike vrae en haar hoopvolle siening van ʼn Suid-Afrika wat beter kan en moet wees. Hy sê almal sal voortgaan om aan ʼn beter land te werk al is haar pen en stem in mense se geheue en harte stil.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….