Nuus 06:00
BULLETIN 28 Augustus 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ronald Lamola sê Suid-Afrika se G20-presidentskap betree ‘n kritieke fase
# Luitenant-generaal Mkhwanazi sê ‘n kommissie van ondersoek was nooit sy idee nie
# En twee kinders is doodgeskiet tydens ‘n Katolieke mis in Minneapolis
# Die minister van Internasionale Betrekkinge, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika se G20-presidentskap het sy mees kritieke fase betree namate voorbereidings vir die leiersberaad toeneem. Lamola sê onderhandelinge op ministeriële vlak sal deel wees van die Johannesburg-verklaring. Belangrike vergaderings wat voorlê, sluit in die G20 Ooreenkoms met Afrika in Johannesburg, ‘n voedselsekerheidsessie in Kaïro, Egipte, en ‘n nywerheidsberaad in Abuja, Nigerië. Hy sê dié inklusiewe benadering versterk wêreldwye ekonomiese samewerking:
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sê die totstandkoming van die Madlanga-kommissie was nie sy idee nie. Hy verwelkom egter die optrede van die uitvoerende gesag, die Parlement en president Cyril Ramaphosa om wetstoepassing te versterk. Mkhwanazi het tydens die 27ste Interpol Afrika-streekskonferensie in Kaapstad aan News Live SA gesê die polisie sal ondersoeke voortsit ondanks uitdagings, en hoëprofiel-persone is reeds in hegtenis geneem:
# Die EFF sê hy gaan die Gelykheidshof se uitspraak teen sy leier Julius Malema in die Appèlhof betwis. Die hof het Malema skuldig bevind aan haatspraak en die aanhitsing tot geweld. Die saak spruit uit ‘n toespraak in 2022 waartydens Malema partylede gekritiseer het omdat hulle nie opgetree het teen ‘n wit man wat deel was van ‘n groep wat hulle in Oktober 2020 buite die Hoërskool Brackenfell aangeval het nie. Die EFF sê die uitspraak is ‘n ernstige verdraaiing van die geskiedenis, filosofie en die aard van politieke spraak in ‘n demokratiese samelewing.
# Die DA-leier in Gauteng, Solly Msimanga het gedreig om ‘n mosie van wantroue teen premier Panyaza Lesufi in te dien omdat hy nie ernstig is oor die bestryding van misdaad nie. Die party het gister ‘n betoging by die premier se kantoor gehou oor sy kommer oor die misdaadkrisis regoor die provinsie en die voortgesette onderbenutting van polisiestasies. Msimanga sê terwyl die benutting van hulpbronne deur die polisie onder die nasionale regering val, lê Lesufi se mislukking in sy onvermoë om sy provinsiale platform effektief te gebruik om hulle aanspreeklik te hou:
# Die polisie in Minneapolis sê die dodelike skietvoorval by ‘n Katolieke skool was ‘n doelbewuste daad van geweld teen kinders en kerkgangers. Minstens twee kinders, agt en tien jaar oud, is dood, en 17 ander mense is beseer in ‘n skietery gister tydens ‘n mis by die Annunciation Katolieke Skool. Die polisiehoof van Minneapolis, Brian O’Hara, sê die gewapende man het die skool tydens die mis van buite die gebou genader en met ‘n geweer deur kerkvensters begin skiet:
# Rugby: Die oud-Springbok-kaptein Jean de Villiers sê ondersteuners verkies dit as die nasionale span wen, al is dit met vervelige rugby, en bevraagteken die hoofafrigter Rassie Erasmus se wedstrydplan wat hy glo die skare tevrede sal stel. Hy het verwys na Suid-Afrika se onlangse pakslae teen die Wallabies toe die span sy speelstyl verander het, maar teruggekeer het na ‘n konserwatiewe benadering om die volgende toets te wen. De Villiers sê toeskouers wil vermaak word, maar Bok-ondersteuners wil steeds hê hul span moet wen, selfs al is dit nie ‘n mooi wedstryd nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-224-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-398-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….