Nuus 16:00
BULLETIN 27 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Jannie Mouton-stigting bied sewe-miljard-rand aan om Curro se aandeelhouers uit te koop
# Minister Cachalia benadruk die bedreiging van oorgrens-misdaad op ‘n Interpol-konferensie
# En tennis: Lloyd Harris van Suid-Afrika pak die vierde-gekeurde Taylor Fritz op die Amerikaanse Ope
# ‘n Trust van die bekende sakeman Jannie Mouton het sewe-miljard-rand aangebied om Curro se aandeelhouers uit te koop en Suid-Afrika se grootste onafhanklike skool-onderneming te omskep in ‘n organisasie sonder winsbejag. Die transaksie, wat gedeeltelik in kontant en Capitec-aandele betaal word, beskik oor ‘n 60-persent-premie. Curro se bestuur steun die aanbod en voel dit sal die onderneming toelaat om winste te herbelê om meer skole te bou, beurse te verskaf en toegang tot onderwys te verbeter. Sy aandeel het ná die nuus met 50-persent gestyg.
# Die GOOD-party sê Ian Cameron van die DA se besluit om ‘n vuurwapen te dra tydens ‘n besoek aan Philippi in Kaapstad is uiters ontstellend. Hy het die vuurwapen verlede week gebruik tydens ‘n aanval op sy voertuig tydens ‘n toesigbesoek. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Cameron se optrede simboliseer koloniale era-idees van beskaafde wittes wat swart barbaarsheid oorweldig. Herron sê as hy nie veilig voel om sy werk in swart woonbuurte te doen nie, moet hy die speaker van die Parlement vra vir beskerming en nie soos ‘n hedendaagse Rambo of Piet Retief optree nie.
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, het tydens die 27ste Interpol Afrika-streekkonferensie in Kaapstad gesê oorgrens-georganiseerde misdaad ondermyn staatsbestuur, wakker korrupsie aan en belemmer ontwikkeling. Cachalia het die belangrikheid van Afrika- en globale samewerking beklemtoon om onwettige finansiële vloei te bestry, Interpol se sentrale buro’s te versterk en inligting-deling te verbeter. Hy het die noodsaaklikheid beklemtoon om voort te bou op besluite van 2023 se konferensie in Luanda om ekonomiese ontwikkeling, openbare veiligheid en sekerheid te beskerm:
# Tennis: Lloyd Harris van Suid-Afrika speel later vandag op een van die hoofbane op die Amerikaanse Ope in New York. Hy pak die vierde-gekeurde plaaslike gunsteling, Taylor Fritz, in die tweede ronde. Harris se suksesvolste verskyning in die toernooi was in 2021 toe hy sy eerste Grand Slam-kwarteindstryd gehaal het na hy Denis Shapovalov en Reilly Opelka verslaan het voor hy teen Alexander Zverev verloor het. Hy het na ‘n gewrigsoperasie en ander beserings teruggesak op die ranglys en hy is nou 353ste in die wêreld.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 111-duisend-128-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-381-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-82-sent per vat.
# En ten slotte: Standard Bank het sy Volhoubaarheids-akademie bekendgestel. Dis ‘n gratis leerplatform wat praktiese maatskaplike, omgewings-, bestuurs- en volhoubaarheids-oplossings aan sake-ondernemings reg oor Afrika bied. Die akademie is ontwikkel in samewerking met Microsoft en Philanthrosoft. Manessah Alagbaoso van Standard Bank sê deelnemers kan deur die platform insig kry in die gebruik van hernubare energie, klimaat-slim landbou en vernuwing in waterbestuur:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….