Goeie Nuus
BULLETIN 27 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die veertienmalige Grammy-wenner Taylor Swift en die driemalige Super Bowl-kampioen Travis Kelce het verloof geraak sowat twee jaar nadat hulle hul verhouding aangekondig het. Die paartjie skryf in ‘n gesamentlike Instagram-plasing “Julle Engels-onderwyser en liggaamsoefening-onderwyser gaan trou”. Die plasing het meer as 24-miljoen duimpies gekry. Die aankondiging volg net dae nadat Swift ‘n seldsame blik op haar verhouding met Kelce gegee het op sy potgooi New Heights, wat hy saam met sy broer Jason aanbied.
# Comic Con Africa 2025 begin môre in die Johannesburgse Ekspo-sentrum en beloof om die grootste viering nog te wees. Daar sal die eerste keer gebaretaal-tolke op die hoofverhoog wees om toeganklikheid uit te brei. Die genres wissel van animasie tot wetenskapfiksie, met beoordelaars uit die rolprentbedryf. Van die hoogtepunte sluit die bekendes Misha Collins en Jessie T Usher, en die eksklusiewe Funko Pops in. Die organiseerders het bevestig kaartjies vir Saterdag en Sondag is uitverkoop, maar ‘n beperkte aantal is nog beskikbaar vir môre en Vrydag.
# Die eThekwini-munisipaliteit sê 18 persone van die Durbanse Modeskou wat gementor word maak gereed om hul versamelings te vertoon en hul handelsmerke aan moontlike kopers bekend te stel. Meer as 60 ontwerpers van reg oor Afrika neem aan die gewilde modeskou deel. Dit sluit die bekendstelling van Sompire Femme deur Somizi Mhlongo in terwyl studente van die Klas van 2025 ook hul loopplank-buiging maak. Dube Atelier se stigter, Sbusisiwe Dube, sê die Mode-ontwikkelingsprogram het lewens verander:
# Die Wits-universiteit se Instituut vir Botsingsfisika is een van die wêreldwye wenners van die 2025 ODESS-prys in Frankryk. Die toekenning van die Pierre Fabre-stigting gee erkenning aan ‘n Suid-Afrikaanse uitvinding wat deeltjie-fisikategnologie aanpas om luggehalte te monitor. Die kompetisie het ʼn rekord van 350 inskrywings van reg oor die wêreld gelok. Die wenprojek onder leiding van die instituut se direkteur, Bruce Mellado, is die ontwerp en ontwikkeling van ʼn omgewing-moniteringstelsel wat deur kunsmatige intelligensie aangedryf word wat lugbesoedeling en verwante gesondheidsgevare onmiddellik waarneem.
# En laastens: Die Wes-Kaapse LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, het die Matzikama-munisipaliteit besoek om titelaktes te oorhandig aan goedgekeurde begunstigdes van die fase 4-projek in Klawer en fase 6 in Vredendal-Noord. Simmers sê die begroting van meer as 80-miljoen-rand het reeds esorg vir 477 Breaking New Ground-huise in Klawer se behuisingsprojek:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….