Nuus 16:00
BULLETIN 26 Augustus 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG gaan volgende maand Vusimuzi “Cat” Matlala se borgtogaansoek teenstaan
# Die publiek word aangemoedig om deel te neem aan raadpleging oor moontlike toekomstige elektroniese stemmery
# En rugby: Die slot Will Skelton gaan die Wallabies se twee toetse teen die Pumas misloop
# Die sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala se borgtogaansoek is in die Landdroshof in Alexandra, Johannesburg, uitgestel tot Maandag Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Phindi Mjonondwane, het aan Newzroom Afrika gesê die uitstel is versoek om sewe dossiere oor verskillende regsgebiede te sentraliseer. Sy het ook bevestig die saak teen Matlala, sy vrou en drie ander sal op die 7de Oktober na die hof terugkeer:
# Die Konstitusionele Hof het die Lungu-familie se aansoek van die hand gewys vir ‘n regstreekse appèlaansoek teen ‘n volbank-uitspraak wat die Zambiese regering se reg erken om oudpresident Edgar Lungu se liggaam vir ‘n staatsbegrafnis te repatrieer. Die hof het bevind die familie het nie ‘n sterk saak gestel vir ‘n regstreekse aansoek nie, wat beteken die gevestigde regsproses sal voortgaan sonder die omseiling van appèlprotokolle. Hierdie besluit laat die regering toe om voort te gaan met sy planne, ondanks die familie se besware.
# Die Verkiesingskommissie moedig Suid-Afrikaners aan om deel te neem aan die openbare raadpleging oor die moontlike gebruik van elektroniese stemmery in toekomstige verkiesings. Die raadpleging is oop in alle provinsies en burgers word aangemoedig om hulle standpunt, voorstelle en kommer teen die einde van volgende maand in te dien. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, het egter beklemtoon dat tradisonele stembriewe in volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing gebruik sal word:
Nuus uit die buiteland:
# Australië het die Iranse ambassadeur, Ahmad Sadeghi, verban en beskuldig dat die land aandadig is aan anti-semitiese brandstigtingsaanvalle in Sydney en Melbourne. Dit is die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog dat Australië ‘n ambassadeur verban. Eerste minister Anthony Albanese sê intelligensiedienste het tot die gevolgtrekking gekom dat Iran minstens twee antisemistiese aanvalle uitgevoer het. Hy sê Teheran was agter die brandstigting by ‘n kosjerkafee in die voorstad Bondi in Sydney in Oktober verlede jaar en ook ‘n groot brandstigtings-aanval by die Adass Israel-sinagoge in Melbourne in Desember.
# Rugby: Die slot Will Skelton sal albei die Wallabies se Rugbykampioenskaps-wedstryde teen Argentinië misloop nadat hy besluit het om na sy Franse klub, La Rochelle, terug te keer vir die Top 14-seisoen. Dit is nog nie seker of hy vir die twee Bledisloebeker-toetse teen Nieu-Seeland sal terugkeer nie. Die Wallabies is tans tweede op die punteleer na die All Blacks na gemengde uitslae teen die Springbokke in Suid-Afrika. Skelton word gesien as ‘n belangrike speler vir Australië se hoop om die kampioenskap te beklink.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-716-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-377-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….