Goeie Nuus
BULLETIN 26 Augustus 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Shoprite verseker Suid-Afrikaners sy nuwe slim Xpress-winkelwaentjie hou geen bedreiging in vir werksgeleenthede nie. Die toets, wat by Checkers Hyper in Brackenfell en Checkers Constantia in Kaapstad uitgevoer word, gebruik 20 tegnologies-gevorderde waentjies wat dit moontlik maak vir kliënte om self produkte te skandeer terwyl hulle die totaal dophou, en om regstreeks uit die waentjie te betaal. Shoprite sê die vernuwing is om die inkopie-ondervinding te verbeter, nie om werkers te vervang nie. Intussen word nuwe poste soos opsigter-assistente en tegniese ondersteuning geskep soos die tegnologie ontwikkel.
# Tessa Moll is aangewys as die eerste ontvanger van die Universiteit van Kaapstad se gesogte Wellcome Early-Career-toekenning. Die toekenning bied befondsing vir reeds gevestigde navorsers en spanne wat uitdagende en kreatiewe navorsings-idees nastreef om beduidende veranderinge in die begrip van mense se lewens, gesondheid en welstand te bewerkstellig. Moll se navorsing ondersoek die kruispunt van voortplanting, mediese tegnologie en omgewingsgesondheid in Suid-Afrika. Sy sê die toekenning sal noodsaaklike ondersteuning vir navorsing bied wat die lewensveranderende invloed van chemies-gedrewe gesondheidsingrypings ondersoek.
# ‘n Konsortium van nege Suid-Afrikaanse universiteite en vyf Europese vennote het die Suid-Afrikaanse meestersgraadkursus in Oseaanwetenskappe van stapel gestuur. Dit is ‘n ambiseuse projek wat beloof om nagraadse opleiding in Oseaanwetenskappe oral in Afrika te hervorm. Graduandi sal vaardighede ontwikkel in probleemoplossing, skryfwerk, kommunikasie, datahantering, spanwerk, ondernemerskap, projekbestuur en fondsinsameling. Aansoeke vir die eerste inname is nou oop en die sluitingsdatum is 31 Augustus.
# Die Universiteit van KwaZulu-Natal sê die eerste oefenkamp van die KwaZulu-Natalse Blinde Krieket-vrouespan wat onlangs gehou is, is ‘n groot stap vorentoe vir sport vir gestremdes, geslagsgelykheid en krieketontwikkeling in Suid-Afrika. Die baanbrekerprojek is gelei deur die KwaZulu-Natalse Vereniging van Blinde Krieket en daar was geesdriftige deelname van vroue reg oor die provinsie, wat ook die amptelik totstandkoming van die span was. Die kamp se intensiewe program oor drie dae het vaardigheidsopleiding, wedstrydspel, leierskapsontwikkeling en spanbou ingesluit.
# En ten slotte: Die tweedejaarstudente aan die Durbanse Universiteit vir Tegnologie se Kleretegnologie-afdeling het die Denim Volhoubaarheidsveldtog gelei om herwinning en omgewingsvriendelike mode te bevorder. Die veldtog is deel van hul projekgebaseerde leerplan. Die veldtog het die skadelike gevolge van tekstielafval uitgelig, met denim as een van die materiale in die modebedryf wat die meeste besoedeling veroorsaak. Die universiteit sê denim verg baie water en energie tydens vervaardiging en wanneer dit weggegooi word, dra dit by tot die groeiende omgewingsbesoedelings-probleem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….