Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 26 Augustus 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die hoofafrigter van die Springbok-vrouespan, Swys de Bruin, sê hulle fokus skuif nou na Italië nadat hulle Brasilië met 66-6 vermorsel het in hulle eerste Wêreldbeker-wedstryd. Nommer agt, Aseza Hele, het drie van Suid-Afrika se tien drieë gedruk. De Bruin sê al is Brasilië die laagste-gekeurde span in die toernooi, is hy steeds trots dat sy span vir 80-minute voluit gespeel het. Hy meen egter hulle moet hul balhantering verbeter. Die Bokke speel Sondag teen Italië en hulle laaste groepwedstryd is ‘n week later teen Frankryk.
Die Springbok-mans se afrigter, Rassie Erasmus, sê intussen hulle is onder geen illusie oor die geweldige uitdaging wat op hulle wag teen die All Blacks in Nieu-Seeland nie. Die spanne speel volgende Saterdag ‘n Rugbykampioenskapstoets op Edenpark in Auckland en ‘n week later in Wellington. Erasmus het ‘n groep van 36 spelers saamgestel en byna die hele span behou wat in die eerste twee rondes teen Australië gespeel het. Erasmus sê elke toets teen die All Blacks is epies, gegewe die wedywering tussen die spanne.
# Krieket: Suid-Afrika se voormalige kaptein, Dané van Niekerk, het haar internasionale uittrede eers opsy geskuif en is beskikbaar vir ‘n plek in die Wêreldbekertoernooi vir vroue. Die 32-jarige speler wat die nasionale span in Maart 2023 verlaat het, is ingesluit by ʼn oefengroep van 20. Van Niekerk sê sy het besef hoe baie sy dit mis om die land te verteenwoordig. Sy sê sy is ten volle toegewyd om alles te doen om weer daardie geleentheid te hê. Die groep moet tot 15 verminder word vir die Wêreldbekertoernooi.
Nog krieketnuus: Die gewese Indiese kaptein, Sourav Ganguly, gaan Pretoria Capitals afrig in die vierde seisoen van die SA20. Dit is die 53-jarige se eerste probeerslag as breier. Hy vervang die gewese Engelse kolwer Jonathan Trott, terwyl die voormalige veelsydige Protea-speler Shaun Pollock die hulpafrigter is. Ganguly het ‘n administrateur geword na sy uittrede in 2008 en was tussen 2019 en 2022 president van die Indiese beheerliggaam, die BCCI. Hy was vroeër ook ‘n mentor vir die Indiese Premierliga-span Delhi Capitals. Die volgende SA20 begin op 26 Desember.
# En tennis: Die Suid-Afrikaner Lloyd Harris het met die Argentyn, Sebastian Baez, afgereken in die eerste ronde van die Amerikaanse Ope. Die Spanjaard Carlos Alcaraz het Reilly Opelka van Amerika verslaan terwyl hy mik na sy tweede titel op Flushing Meadows. Casper Ruud van Noorweë het die Oostenryker, Sebastian Ofner, geklop. In die vroueafdeling het die Australiese Ope-kampioen, Madison Keys, onverwags in drie stelle teen Renata Zarazua van Mexiko verloor. Nog ʼn Amerikaner, Venus Williams, het ook in drie stelle teen die Tsjeg Karolina Muchova verloor.
Bly ingeskakel vir meer nuus