Nuus 11:00
BULLETIN 26 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê ’n regverdige vryemarkstelsel is nodig om die handelskrisis met Amerika te herstel
# BOSA gee drie name aan Ramaphosa om as ambassadeur in Washington te oorweeg
# En tennis: Lloyd Harris van Suid-Afrika en die Spanjaard Carlos Alcaraz wen in die Amerikaanse Ope
# Die Vryheidsfront Plus sê die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het ‘n goue geleentheid verbeur om die ANC se mislukte sosialistiese beleide te vervang met ʼn regverdige vryemarkstelsel. Die regering wil tydelike vrystelling van standaard mededingingswetgewing toelaat om uitvoere te bevorder. Dit is op voorwaarde dat klein en medium-ondernemings wat aan vereistes vir swart ekonomiese bemagtiging voldoen, ingesluit word. Jaco Mulder van die VF Plus sê hierdie mislukte beleide dra regstreeks by tot die huidige handelskrisis met Amerika:
# Build One South Africa is steeds bekommerd oor die voortgesette afwesigheid van ‘n Suid-Afrikaanse ambassadeur in Amerika. Die party het ‘n stel geloofwaardige kandidate vir die posisie aan president Cyril Ramaphosa voorgelê. Hulle is die sekretaris-generaal van die Afrika-vryhandelsgebied, Wamkele Mene, die korporatiewe bestuurskenner Reuel Khoza en die hoof van Wits se Bestuurskool en lid van die President se Ekonomiese Adviesraad, Mzukisi Qobo. BOSA sê die huidige vakuum aan die stuur van die land se sending in Washington is onhoudbaar.
# Die Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling het vier nuwe gevalle van bek-en-klouseer bevestig. Drie van die gevalle is by Kroonstad: twee op kommersiële plase en een op gemeenskaplike weidingsgebied. Die vierde geval is op ʼn plaas naby Cornelia in die Mafube-munisipaliteit. Die departement sê beweging word beperk op alle plase binne ʼn radius van tien kilometer van die betrokke plase. Hy sê diere op die besmette plase sal eerste ingeënt word.
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, vra ʼn onmiddellike en onpartydige ondersoek na die dodelike Israelse aanvalle op die Nasser-hospitaal in Khan Yunis, Gaza. Minstens 20 mense, insluitend vyf joernaliste, is volgens berigte in die aanvalle dood. Die joernaliste het vir Reuters, Associated Press, Al Jazeera en Middle East Eye gewerk. Guterres se woordvoerder, Stéphane Dujarric, sê ʼn onmiddellike en permanente skietstilstand is Gaza is nou nodiger as ooit:
# Tennis: Die Spanjaard Carlos Alcaraz het Reilly Opelka van Amerika verslaan om die Amerikaanse Ope se tweede ronde te haal. Die tweede gekeurde mik na sy tweede titel op Flushing Meadows. Die Suid-Afrikaner Lloyd Harris het met die Argentyn, Sebastian Baez, afgereken terwyl Casper Ruud van Noorweë die Oostenryker, Sebastian Ofner, geklop het. In die vroueafdeling het die Australiese Ope-kampioen, Madison Keys, onverwags in drie stelle teen Renata Zarazua van Mexiko verloor. Nog ʼn Amerikaner, Venus Williams, het ook in drie stelle teen die Tsjeg Karolina Muchova verloor.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 109-duisend-951-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-376-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….